San-grond beset

SPANNING tussen die kommunale boere van die Gam-gebied en die San-gemeenskap in die Nyae Nyaebewaringsgebied is besig om breekpunt te bereik nadat ’n groep Herero-boere verlede week sonder magtiging die heining op die Rooilyn geknip, hulle diere deurgejaag en die Gura-fontein beset het.

Die onwettige optrede hou ’n ernstige gesondheidsgevaar vir diere in aangesien die direktoraat Veeartsenydienste (DVS) sy hande vol het met uitbrekings van bek-en-klouseer in Kavango en Caprivi. Die Namibiese Landbou-unie (NLU) sal vandag ’n verslag oor die erns van besetting by DVS se hoofkantoor in Windhoek indien.

Die polisie op Tsumkwe het gister bevestig dat Hereroboere verlede Woensdag die dubbele veeartsenyheining tussen die groot bewaringsgebied en die suidelike kommunale boerderygebied geknip het. Hulle het altesaam 350 beeste, 19 bokke, 16 skape en sowat 40 perde en donkies tot by die Gura-fontein in die Nyae Nyae-bewaringsgebied gejaag.

Hulle weier sedertdien ondanks verskeie oproepe van die polisie en die Swaporaadslid vir Tsumkwe, mnr. Moses !//Coma, om die gebied te verlaat.

Boere in die Ukwangaligebied in Kavango moes hulle sowat twee jaar gelede tot die Hoërhof wend om ’n einde te bring aan die jarelange weidingsdispuut tussen hulle en Oshiwambo-sprekende veeboere wat hul grond onwettig laat bewei het.

Verder is daar voortdurend ongelukkigheid onder die kommersiële en hervestigingsboere naby Okahandja wat aanvoer dat hulle die slagoffers van belhamels in die Ovitoto kommunale boerderygebied is. Veediefstalle en plundering van infrastruktuur is gereeld aan die orde van die dag.

Insp. Samuel Gariseb, bevelvoerder van die polisie op Tsumkwe, sê intussen is berigte ontvang dat nog boere van Gam beplan om hul beeste oor die Rooilyn na die San-gebied te jaag. Die doel van die veeartsenyheining op die 20ste breedtegraad is om te verhinder dat veesiektes soos bek-en-klou-seer wat nog nie in die noorde van die land uitgewis is nie, na die siektevrye suidelike boerderygebiede versprei.

Indien dit gebeur, sal Namibië se vleisuitvoere na uitsoekmarkte in Europa en elders gestaak word. Insp. Gariseb sê die Hereroboere voer aan dat die Gamgebied oortrek is van gifblaar (Dichapetalum cymosum) en dat hulle vee vrek wanneer hulle die plant vreet. Hy sê veeartsenybeamptes op Grootfontein is reeds oor die besetting ingelig, maar dat hulle tot nou toe nog nie teen die Herero-boere opgetree het nie.