27.08.2010 Samewerking vir ontwikkeling gevra
 Die oorskot van mense wat in die Sperrgebiet gevind is, is gister in Lüderitz tydens ’n volle militêre begrafnis tot ruste gelê. Hoewel dit nie seker is hoe die persone gesterf het nie, het die Kabinet besluit om aan hulle ’n heldebegrafnis te gee.
’n OPROEP aan alle Namibiërs om hande te vat en saam te werk om die land op te bou, te ontwikkel en die beste moontlik te maak, is gister op Heldedag deur Pres. Hifikepunye Pohamba gedoen, toe hy tydens die Heldedagvieringe op Lüderitz gepraat het.
Hy het beklemtoon dat geen gemeenskap agtergelaat moet word en nie ’n enkele individu uitgesluit mag word nie.
“Ons is trots dat Namibië aan die wêreld gewys het dat ons ’n sterk politieke wil en vasberadenheid het om vrede en stabiliteit in ons land te handhaaf,” het die President gesê.
Hy meen ook die aanvaarding van die beleid van nasionale versoening in 1990 het Namibiërs in staat gestel om stabiliteit in alle uithoeke van die land te handhaaf. “Ons mense is in staat om in vrede en harmonie soos broers en susters saam te leef. Dit het Namibië een van die mees polities en maatskaplik stabiele lande op die Afrika-vasteland gemaak. Ons is trots daarop dat Namibië ’n oase van kalmte is,” het Pres. Pohamba gesê.
 Die voormalige Namibiese president, mnr. Sam Nujoma, het gister sy eer aan die gestorwenes in die Namibiese vryheidstryd en die oorledenes wie se oorskot in die Sperrgebiet gevind is en wat gister op Lüderitz herbegrawe is, betoon deur 'n krans op die grafte te lê.
Volgens hom onthou Namibiërs op Heldedag die vooruitstrewende mense, nasies en organisasies van oor die wêreld vir hul steun in die tyd wat dit nie so goed met die land en sy mense gegaan het nie. Vele Namibiers het destyds hul lewens gewaag om kos, water, klere, skuiling en inligting oor die vyand te verskaf.
Die verkryging van onafhanklikheid het egter die toekoms van Namibië in elke landsburger se hande geplaas. Dus moes Namibiërs beplan, nuwe raamwerke vir staatsbestuur daarstel, instellings oprig en die nodige geld en bronne verkry om ontwikkelingsprogramme te laat realiseer.
Die Regering het prioriteite vir nasionale ontwikkeling soos onderwys, behuising, sanitasie, water, elektrsiteit, die uitbreiding van die nasionale vervoerstel en die verbetering van die kommunikasie-infrastruktuur identifiseer. En die Regering sal ook volgens Pres. Pohamba aanhou om die probleem van armoede en werkloosheid aan te spreek.
Tydens die herdenking van Heldedag is menslike oorskot wat in die Sperrgebiet ontdek is, op Lüderitz begrawe. Die President het gesê hoewel dit nie seker is vanwaar die menslike oorskot afkomstig is of hoe lank dit al in die Sperrgebiet begrawe was nie, hulle ook ’n ordentlike begrafnis verdien.
Na die ontdekking van die geraamtes is ’n besluit deur die Kabinet geneem om dit nie langer aan die elemente van die omgewing of roofdiere bloot te stel nie.
“Algemene ordentlikheid verwag dat ons alle oorledenes, selfs ons vyand, met respek moet behandel,” het Pres. Pohamba gesê.
Hy het gesê dat die menslike oorskot nie noodwendig uit die tyd van kolonialisme of die vryheidstryd dateer nie. Sommige kon volgens hom gesterf het aangesien hul weerstand teen die vyand gebied het terwyl ander bloot burgers was wat op die myn gewerk het of aan ander aktiwiteite deelgeneem het.
Intussen het Pres. Pohamba gesê dat Namibiërs tydens Heldedag terug kyk op die lang pad wat gereis is, die struikelblokke wat oorkom is en die prestasies wat behaal is op die pad om ’n nasie te word.
Na die Duitse kolonialisme wat in 1883 in Namibië begin het, het mense ’n sterk stryd teen die magte wat hulle onderdruk het en hul land, lewende hawe en ander eiendom probeer steel het, gevoer.
Tydens 1904 tot 1908 se oorlog van weerstand het Duitse magte konsentrasiekampe in die woestyn op Shark Eiland en ander plekke opgerig waar duisende Namibiërs vergaan het. Sommige was ter dood veroordeel en baie het van honger en siekte gesterf. Die dapperes in hierdie oorloë sal nooit vergeet word nie, het die President gese. Hul dapperheid het later generasies van vryheidsvegters inspireer om die nasionale bevrydingstryd tot ’n finale oorwinning te voer.
Een van die grootste keerpunte in die stryd vir vryheid was op 26 Augustus 1966 by Omugulu-gwoOmbashe. Op dié historiese dag het gewapende vegters van die Suidwes-Afrika Bevrydingsmag (Swala) die Peoples Liberation Army of Namibia (Plan) die eerste skote in Namibië se vryheidstryd gevuur.
Dit het aan Suid-Afrika, en inderdaad die res van die wêreld, gewys dat Namibiërs onder leierskap van Swapo gereed is om hul vryheid terug te eis, het Pres. Pohamba gesê.
Die stryd het 23 jaar geduur en is met onafhanklikwording op 21 Maart 1990 beloon. Op die dag is ’n demokratiese nasie geskep onderhewig aan grondwetlike beginsels van respek vir menswaardigheid en die wet. Vir die eerste keer in die gekiedenis van die land was alle mense in staat om die grondwetlik beskermde regte van vryheid van beweging, spraak en rassegelykheid te geniet.
|