Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Motor 26 September

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

03.10.08

Walglike toestand in rykmansbuurt

02.10.08

Khomas-grote haal rekordboek

02.10.08

Twee gesinne in rou ná fratsongelukke op hul werf

01.10.08

Wittebroodsnag in selle

01.10.08

Harry Simon op sy knieë

24.07.2008

Sakevertroue op laagste vlak vanjaar

SWAKKER metaalpryse, duur olie en hoë inflasie, asook gedempte kredietgroei en motorverkope het plaaslike sakevertroue tot sy laagste vlak nóg vanjaar laat daal. Die jongste IJG-sakeklimaatmonitor toon dat die privaatsektor se vertroue in Mei tot 116,4 punte getuimel het – 25% minder as die hoogtepunt in Februarie vanjaar. Al ses die sub-indekse waaruit dié monitor saamgestel word, het geval, het die Navorsingsinstituut vir Staatsbeleid (IPPR) bevind.

Die kommerwekkendste hiervan is die sogenaamde leidende aanwyser, ’n maatstaf vir die verwagte rigting waarin die ekonomie beweeg, wat binne ’n maand met 18 punte teruggesak het. Met dié aanwyser nou 41% swakker as in Februarie, is sakelui duidelik alles behalwe positief oor hul onmiddellike toekoms. Die beleggingsindeks, die waghond van Namibië se beleggingsomgewing, het sedert April met 17 punte gedaal.

Dié indeks is 35% swakker as met die kruin van sakevertroue in Februarie. Volgens die IPPR is die bleek sakevooruitsigte hoofsaaklik vanweë lokopryse vir metaal wat in Mei met gemiddeld 7% gedaal het, gekoppel aan ru-olie wat in dié maand deur die US$130-vlak gebars het. Daarmee saam is kredietgroei en motorverkope plaaslik onder druk en oortref inflasie alle verwagtings.

Investment House Namibia (IHN) het reeds hul beraming vir 2008 se gemiddelde inflasiekoers tot 9,57% aangepas, terwyl Standard Bank in hul halfjaarlikse oorsig van die Namibiese ekonomie sê onstuitbare kospryse het die inflasievooruitsigte vir vanjaar na ’n gemiddeld van 10% opgestoot. Dit is aansienlik hoër as inflasieskattings in die eerste kwartaal.

Toe het die IPPR gereken die gemiddelde inflasiekoers vir vanjaar sal 8,1% wees. Die Namibiese Navorsingseenheid vir Ekonomiese Beleid (Nepru) het gemeen dit sal selfs laer wees: 7,9%. Die brandstofprys is sedert Junie verlede jaar tien keer verhoog, sê die Bank of Namibia (BoN) in hul jongste kwartaalverslag. Petrol het die afgelope sewe maande N$2,72 duurder geword, terwyl die prys van diesel met N$4,08 gestyg het.

In hul jongste tweemaandelikse oorsig sê IHN brandstofinflasie beloop nou 29%. Die IPPR meet die insinking in sakevertroue voorts aan gedempte motorverkope. Volgens die BoN het die sakesektor in die eerste kwartaal vanjaar 9,6% minder motors as in die laaste kwartaal van 2007 gekoop. IHN wys daarop dat die meeste motorhandelaars in April en Mei hul pryse vir nuwe voertuie met 1,5% moes verhoog.

Dié wat uitermatig baie aan die wisselkoers, en dus die verswakking van die Namibiese dollar teenoor die vernaamste internasionale geldeenhede, blootgestel is, moes hul pryse selfs drie keer verhoog. Dít, en nié brandstofinflasie nie, was die hoofrede dat vervoerinflasie vir April en Mei onderskeidelik 12,1% en 13,7% beloop, sê IHN. Hulle verwag voorts dat die pryse van nuwe motors vandeesmaand verder met tussen 2% en 2,5% gaan styg.

In Oktober sal dit waarskynlik nóg styg. Nóg ’n bydraende faktor tot krimpende sakevertroue is kredietgroei, meen die IPPR. Volgens die BoN het sakekrediet in die eerste kwartaal vanjaar met 5,8% gestyg, ietwat meer as die 4,6% van die laaste kwartaal van 2007. Dié groei kan deels toegeskryf word aan besighede wat meer moet leen om tred te hou met stygende bedryfskoste weens hoër energiepryse.

So byvoorbeeld het die mynen klipgroefsektor in die eerste drie maande vanjaar 39%, teenoor ’n skamele 7,5% die vorige kwartaal, meer geleen. Oortrokke fasiliteite tydens die oorsigtydperk het met 8,8% gestyg ná dit die vorige kwartaal met 0,2% geval het.

Dié groei is hoofsaaklik vanweë besighede in die telekommunikasiesektor wat in die rooi in beweeg het, luidens die BoN. Die kredietgroei vir die vervaardigingsbedryf in dié tyd was 10,1% teenoor ’n afname van 6,7% in die laaste kwartaal van 2007. Die bou- en konstruksiesektor se kredietgroei was 7,2%, ’n afname van die 11,2% van die vorige kwartaal.