24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

20.11.2009

SADC-waarnemers is hier

© Estelle de Bruyn
Verkiesingswaarnemers geklee in hierdie baadjies sal landwyd ’n oog oor die komende verkiesings hou.
NAGENOEG 100 waarnemers van al die lidlande van die Suider- Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) word in al dertien streke van Namibië ontplooi met die oog op die komende verkiesings. Die waarnemers sal afhangend van die bevolkingsdigtheid van streke ontplooi word en al kan elke uithoek van die land nie gedek word nie, sal die waarnemers alles in hul vermoë doen om ’n goeie geheelbeeld van die land en die verkiesings te kry.

Die hoof van die waarnemersending, amb. Francisco Madeira van Mosambiek, het tydens die bekendstelling van die waarnemersending in Windhoek ’n beroep op alle belanghebbendes, veral politieke partye en kandidate, gedoen om regdeur die verkiesingsproses selfbeheersing en politieke verdraagsaamheid aan die dag te lê.
© Estelle de Bruyn
Die hoof van die SADC-waarnemersending, amb. Francisco Madeira van Mosambiek.
“Ons pleit by alle belanghebbendes wat betrokke is by die proses om die regstaat te respekteer en sodoende die vrede en kalmte waarvoor Namibië in die streek bewonder word, te handhaaf,” het amb. Madeira gesê. Hy het in vraetyd geantwoord op medianavrae rakende die ongelyke lugtydtoekenning wat deur die staatsuitsaaier, die NBC, aan politieke partye toegeken word.

Hy sê by definisie is die staatsmedia ook die nasionale media en dit behoort aan alle belanghebbendes. Dit moet gevolglik gelykop gedeel word deur alle rolspelers. Dit is die uitgangspunt in SADC. “Indien ons enige klagtes hoor, sal ons die moed hê om dit te bespreek en ons sal nie huiwer nie,” het hy gesê.

“Ons is nie polisiemanne nie, maar ons het toegang tot diegene wat dinge wat verkeerd is, kan verander,” het hy bygevoeg. Hy het egter beklemtoon dat die SADC-waarnemers nie in Namibië is om die land te polisieer nie, maar eerder om “saam met Namibiërs fees te vier”.
© Estelle de Bruyn
Die uitvoerende sekretaris van SADC, dr. Tomáz Salomão.
Waarnemers van verskillende opposisiepartye het ná die bekendstelling van die waarnemersending gesê die uitlating boesem nie veel vertroue in nie en as die waarnemers net hier is om “fees te vier”, gaan hulle min of geen waarde as verkiesingswaghonde hê nie.

Amb. Madeira het in sy toespraak by die geleentheid gesê die hoofdoel van die sending is om vas te stel of die SADC-beginsels en riglyne vir die hou van demokratiese verkiesings in die streek nagekom word. Die waarnemers is in Namibië op uitnodiging van Pres. Hifikepunye Pohamba, wat mnr. Armando Emilio Guebuza, voorsitter van SADC se orgaan vir politiek, verdediging en veiligheidsamewerking, in die verband genader het.

“Die uitnodiging deur Namibië is ’n bewys van die land se verbintenis tot ’n deursigtige verkiesing en om die demokratiese prosesse te konsolideer,” het amb. Madeira gesê. Hy sê die SADC-streek is deur middel van sy lidlande besig om betekenisvolle vordering te maak deur te verseker dat die burgers ten volle deelneem aan besluitnemingsprosesse en die konsolidering van staatsinstansies en demokratiese praktyke.

Die waarnemers sal beraadslaag met politieke partye, die Verkiesingskommissie van Namibië, verkiesingsbeamptes, distrikkommissarisse, die polisie, burgerlike organisasies, die media asook plaaslike en ander internasionale en streekwaarnemers.

Die uitvoerende sekretaris van SADC, dr. Tomáz Salomão, het op sy beurt gesê verkiesings bied besondere uitdagings in die gedagtes en harte van diegene wat daarby betrokke is. “Almal moet bereid wees om eerbaar en verantwoordelik te wen of te verloor.

“In ’n demokrasie behoort daar nie vyande te wees nie, maar mededigingers en daarom medelandsburgers. Die proses moet kiesers en diegene vir wie gestem word, die versekering gee dat die mense se beslissing met eerbaarheid aanvaar kan word. Ons moedig dus die mense van Namibië aan om voort te gaan om politieke volwassenheid en verantwoordelikheid aan die dag te lê deur die demokratiese beginsels en gebruike te respekteer,” het dr. Salomão gesê.