16.05.2008
SA minister looi landgenote oor ‘ekonomiese xenofobie’
DIE Suid-Afrikaanse minister van openbare ondernemings, mnr. Alec Erwin, het sy landgenote gelooi oor hul kritiek op Eskom se kraguitvoere na buurlande soos Namibië. Luidens die Suid-Afrikaanse Nuusagentskap (Sapa) het mnr. Erwin tydens ‘n nuuskonferensie aan joernaliste gesê die eis deur verskeie sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing dat Eskom sy kraguitvoere na buurlande moet staak, kom neer op “ekonomiese xenofobie (vreemdelingevrees)”.
“Ons hanteer ons kliënte in buurlande soos kliënte; hulle het nie alles wat ons Suid-Afrikaanse kliënte het nie, maar ons moet voortgaan om hulle soos kliënte te behandel.” Mnr. Erwin het luidens Sapa gesê dit is ‘n geïntegreerde sisteem waar Suid-Afrika krag invoer van sy buurlande – en sal voortgaan om dit in die toekoms te doen – en huidig krag aan hulle verkoop.
Hy het ook gesê hy kan nie die logika verstaan van die druk wat op Suid-Afrika uitgeoefen word om sy buitelandse kliënte te straf nie. Hy het verder gesê dit is vir hom onverstaanbaar dat Suid-Afrika as krimineel beskou word omdat hy krag uitvoer. Mnr. Erwin het benadruk dat Eskom se buitelandse kliënte behandel sal word soos enige ander kliënt en dat dié verstandhouding nie sal verander nie.
Volgens hom is die hoeveelheid krag wat Eskom na buurlande uitvoer nie soveel dat dit ‘n noemenswaardige impak op die Suid-Afrikaanse elektristeitsvoorsieningsisteem het nie. “Maar laat ek vir u sê, daar gaan ‘n dag kom dat ons krag van ons buurlande gaan invoer in hoeveelhede wat baie noemenswaardig gaan wees.
“As ek in die Kongo was of in Mosambiek en een of ander Suid-Afrikaanse regering sny my krag af wanneer hy ‘n krisis het sonder inagneming van die invloed wat dit op my het, gaan ek baie seker maak dat ek dit in die toekoms ook aan hom doen,” het die minister aldus Sapa gesê.
Namibië voer danksy die goeie vlak van die Kunene-rivier en die feit dat al drie turbines by die waterkragskema by Ruacana tans krag opwek, snags sowat 50 MW krag na Suid-Afrika uit. Intussen is ‘n hoëvlak vergadering tussen Eskom en NamPower vandeesweek in Windhoek gehou om die voortgesette kraglewering tussen die twee lande te bespreek.