1.03.2010 Rössing ontknoop werkersgeskil
 ’n Geskatte vyfhonderd mynwerkers van Rössing voor die hoofgebou van die myngroep op Swakopmund. Die werkers se eise is ook op enkele plakkate uitbasuin benewens ’n petisie wat aan die mynbestuur oorhandig is.
DIE eerste twee van drie dae van beslissing het vir Rössing Uraan van die Rio Tinto-groep stil verloop nadat ’n geskatte tweeduisend manure Donderdagoggend by die aanleg sowat 60 km oos van Swakopmund verlore gegaan het.
’n Petisie waarin eise van die mynwerkers herhaal word, is by die Rössing-hoofkantoor op Swakopmund oorhandig. Streng volgens ’n tydskedule wat deur die mynbestuur voorgestel is, het die eerste inligtingsbrief aan werkers Donderdagmiddag gesirkuleer.
Dit het oor produksie gehandel en die prestasieloon wat daarvoor aan werkers betaal gaan word. ’n Tweede sodanige inligtingstuk is vir Vrydagmiddag voorberei oor van die ander eise van die mynwerkers.
Vrydagoggend was daar nog nie aanduidinge oor hoe die eerste brief deur die arbeidsmag ontvang is nie. Die oorblywende eise, indien enige, sal vandag deur die Rössingraad bespreek word. Die werkers het onder leiding van die plaaslike tak van die mynwerkersvakbond sewe dae aan Rössing gegee vir die bylê van die geskille.
Die mynbestuur het blykbaar tot Donderdagoggend geen kennis van die eerste petisie gedra nie. Dagskofwerkers het soos gebruiklik in tien mynbusse van Swakopmund na Rössing vertrek, maar by die mynhek geweier om om 08:00 met werk te begin.
Bestuurslede van die myn was bereid om die petisie van die lede van die Rio Tinto Rössing-tak van die Mynwerkersvakbond te ontvang, maar die werkers het daarop aangedring om die geskrif by die hoofkantoor op Swakopmund te oorhandig. Die busse, elk met sitplekke vir 48 mense, het toe Donderdagoggend met die werkers na Swakopmund teruggekeer.
Die systraat voor die hoofgebou was vir die duur van die nywerheidsoptrede met lint versper. Ampsdraers van die vakbond het met ’n handluidspreker voorgegaan voordat die petisie aan mnr. Mike Leech, besturende direkteur van Rio Tinto Rössing Uraan, oorhandig is. Skarebeheer is deur sekuriteitspersoneel en die polisie gehandhaaf met verkeersbeheer op die wande van die samedromming.
Enkele jou-krete het opgegaan toe mnr. Leech ontvangs van die petisie erken en ’n onderneming gegee het dat voor uitvaltyd ’n aanduiding gegee sou word oor hoe met die eise van die werkers gevorder word. Plakkate is vertoon waarop die integriteit van die mynbestuur bevraagteken word.
Van die plakkaatswaaiers het die gebruiklike “Down!” uitbasuin met bestuurslede van Rössing, onder wie mnr. Zebra Kasete, bestuurder van korporatiewe dienste, wat uitgesonder is. Omstreeks elfuur Donderdagoggend het die werkers berus by ’n aankondiging dat hulle voor die einde van die dag ’n aanduiding sou kry oor hoe met hul eise gevorder word.
Die eerste antwoorde was vir ’n stryerige groep betogers genoeg om hul terug op die busse na hul werkplek 60 km verder te kry. Daar sou omstreeks twaalfuur met ’n skof begin word wat vir 08:00 beplan was.
Die dagskof bestaan uit sowat 480 werkers en hul versuim om met hul dagtaak te begin, het sowat 2 000 werkure verteenwoordig. Tydens ’n kitskonferensie in ’n raadsaal by die Rössing-hoofkwartier het mnr. Kasete in antwoord op ’n vraag gesê dit was nie ’n staking nie. Dit was ’n “werksonderbreking”.
Vrae het nie opgegaan oor die tien busse wat ’n bykomende terug- en heenreis, elkeen met sitplekke vir 48 werkers, oor ’n afstand van 120 km onderneem het nie.
Mnr. Kasete het gesê daar is baie duidelike riglyne waarbinne die mynbestuur en die Mynwerkersvakbond onderhandel. In gesprekke oor die eise is streng by die riglyne gehou.
Van die aangeleenthede is Woensdag deur die myndireksie bespreek met gesprekke wat vandag voortgesit sal word. Die Mynwerkersvakbond is bewus van die gesprekvoering. Daarom het die petisie bra onverwags gekom. Van die onderwerpe waaroor die petisie gaan, is reeds in die gesprekke afgehandel.
’n Onderneming van bestuurskant is dat alles teen die einde van die maand afgehandel sal wees. In die petisie beskuldig die mynwerkers die mynbestuur van onnodige doelbewuste vertragingstaktiek. Die eise is nie die mynbestuur se erns nie en ’n gebrek aan oplossings skep frustrasie by werkers.
Volgens die petisie ontneem arbitrêre besluite die werkers van hul voordele. Die mense ontbeer glo al van voor 9 April verlede jaar omdat vergoedings nie betaal was toe sekere produksievlakke bereik is nie. Die mynbestuur word ook beskuldig van rolle wat vir individue geskep word en wat strydig met die graderings-, werwings- en salarisbeleid by die myn is.
“Historiese oorweginge lei tot diskriminasie by Rössing,” word beweer.
Die leweransiers van ondersteunende dienste loop ook deur. In dié sektor word kwesbare werkers glo uitgebuit en verneder. Oor die mynery self word beweer dat oorskotte versprei moet word na die mense wat dit toekom. Oor produksiebonusse is daar net ondernemings, maar dit kom nooit tot uitvoer nie. Steeds oor ondersteunende dienste word beweer om te bespaar word geweldige bedrae aan die kontrakteurs uitbetaal, maar die werk kon goedkoper deur die mynwerkers self gedoen word, sou die nodige toerusting gekoop word.
“In die proses word ’n Namibiese rykdom verkwis,” volgens die petisie. Die mynwerkers het die Rössingbestuur sewe dae gegun om op die petisie te reageer.
|