DIE Republikeinse Party (RP) verwag 170 afgevaardigdes by die kongres van die party wat vanmiddag in Windhoek by die parlement begin.
Die RP sal volgens ’n nuusvrystelling deur mnr. Tartisius Gaeseb, waarnemende sekretaris-generaal, behalwe vir die samestelling van ’n partylys vir die Nasionale Vergadering ook ’n nuwe uitvoerende bestuur verkies, wysigings aan die partygrondwet bespreek en sy manifes vir November se presidents- en parlementêre verkiesings bekendstel.
Amptelike verrigtinge begin om 16:00, met onder meer ’n toespraak deur RP-president, mnr. Henk Mudge (foto).
Gesante sal verslae bespreek deur die party se sekretaris-generaal, hooforganiseerder, streekkomitees, Jeug- en Vroueligas, asook die RP se geldsake in oënskou neem. Hierna sal die gedragskode onder die vergrootglas kom.
Saterdag sal die fokus val op voorgestelde grondwetlike wysigings, die verkiesing van lede tot die partylys en die bekendstelling van die RP se verkiesingsmanifes.