
Mnr. Henk Mudge.
ETIES sou dit verkeerd wees om ingesweer te word as lid van die Nasionale Vergadering terwyl jy ’n party in ’n hangende hofsaak is, wat die samestelling van die Nasionale Vergadering op grond van die verkiesingsuitslae van 2009 betwis. Dit is die rede wat deur die President van die DTA van Namibië, mnr. Katuutire Kaura, aangevoer is hoekom die DTA hom by die Rally for Democracy and Progress (RDP) se boikot geskaar het.
Lede van die DTA se bestuurskomitee, het Donderdagmiddag na beraadslaging met lede van die uitvoerende komitee landswyd, tot die besluit gekom dat hul twee lede, mnr. Kaura en mnr. Phillemon Moongo, nie ingesweer sou word nie.
Die President van die Republikeinse Party (RP), mnr. Henk Mudge, het Vrydagoggend kort na die inswering van die nuwe lede van die Nasionale Vergadering, ’n nuuskonferensie belê waartydens hy sy party se besluit om ook nie ingesweer te word nie, verduidelik het.
“Dit is ’n feit dat verkiesings gehou is, dat daar uitslae was en dat lede van die Nasionale Vergadering verkies is en vanoggend ingesweer is. Dié proses is nie onwettig nie. Dit word slegs onwettig wanneer ’n hof verklaar dat dit onwettig is.
“Ons verteenwoordig die mense wat vir ons gestem het. Ons was nie verdeeld oor die besluit oor wat ons te doen staan nie. Wetlik sou dit die regte ding wees om te doen deur ingesweer te word. Ons moes egter luister na wat ons ondersteuners wil hê ons moet doen.
“Voor ons aanvanklike besluit om wel ingesweer te word, het ons landswyd gekonsulteer om vas te stel wat hulle van ons verwag.
"Donderdag het ons egter besluit om weer die water te toets en het weer landwyd met ons mense gepraat en hul menings getoets. Ons het die indruk gekry dat daar baie was wat tevrede was met ons besluit om ingesweer te word, maar dat daar baie ander mense was dat nie verstaan het dat die proses nie ontwettig is nie. Dit is vir ons baie belangrik om respekaan ons ondersteuners te betoon en na ’n lang vergadering is besluit dat ek nie vandag ingesweer sal word nie.
“Sodoende het ons respek aan ons ondersteuners betoon en gehoor gegee aan hulle versoek.
“Ek wil beklemtoon dat ons geensins onder druk geplaas is om die besluit te neem nie. Voorts is dit ’n bewys van ons solidariteit met ons vriende in die RDP. Ons sal alles in ons vermoë doen, selfs uit die Parlement wegbly om die saak van die opposisiepartye te versterk.
“Die hofsaak is nou die heel belangrikste saak op ons agenda. Ons is vol vertroue dat ons ’n sterk saak het en oor ’n uitstekende regspan beskik. Die appél, en die aanhoor van die saak is een van die belangrikste sake in Namibië se regsgeskiedenis. Ons kan nie sê ons het ’n demokrasie en ons hou by die verdrae van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), maar ons kul met verkiesings nie.
“Ek is die enigste lid van die RP wat tot die NV verkies is, en ek weet dat daar meer moes gewees het.
“Ons beskik oor baie getuienis van verkiesingsbedrog en ons kan nie die uitslag van die verkiesing aanvaar nie, veral wanneer die uitslag vooraf bepaal is en besluit is wie kry hoeveel setels nie.
“Indien die hof sou besluit om die verkiesings ongeldig te verklaar, sal diegene wat ingesweer is, nie wettig verkose lede van die Nasionale Vergadering wees nie. Gevolglik is die inswering voortydig. Die Regering het hierdie probleme vir homself geskep en hulle moet nie omdraai en ons die skuld gee nie. Ek kan al voorspel dat die regspanne van die Verkiesingskommissie en Swapo sal dreig dat ’n Grondwetlike krisis op hande is. Watse krisis. Ons het die afgelope 20 jaar ’n krisis in hierdie land,” het mnr. Mudge gesê.