24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

5.10.2009

RP eis burgergerigte demokrasie


DIE leier van die Republikeinse Party (RP), mnr. Henk Mudge (foto), het verlede week tydens ’n uitgebreide verkiesingsbesoek aan die Omaheke- streek benadruk dat die party in geen stadium ooit ’n voorstander van suiwer sosialisme was nie.

Die feit dat regerings vandag soveel maatskaplike en ekonomiese eise en nood moet hanteer, maak die ou konsep van ’n laat-maar-los liberaal-demokratiese bestel egter feitlik onmoontlik.

Nêrens, het mnr. Mudge benadruk, bestaan meer iets soos ’n suiwer kapitalistiese bestel nie. Die uiterste teenpool, die sogenaamde kommunistiese volksdemokrasie met sy diktatuur, geweld en ander misbruike, het volgens hom eweneens gewys dat ekstreme sosialisme glad nie die burgery dien nie.

Verkiesingspolitiek, het die RPleier Donderdag in ’n toespraak op Soetblomspan bygevoeg, moet nie in ’n moddergooiery en die losse rondstrooi van groot woorde verval nie, maar belangrike kwessies aanroer wat “ons land en ons toekoms raak.”

Hy het beklemtoon dat die RP sedert sy ontstaan nooit gehuiwer het om “’n maatskaplike en ekonomiese verantwoordelikheid” te aanvaar nie. Daarom is dit noodsaaklik dat natuurlike bronne, soos in die vis- en mynboubedryf, oordeelkundig in belang van alle inwoners aangewend word.

Hierdie rykdom is volgens mnr. Mudge nie deur die mens geskep nie, kan nooit vervang word nie en mag dus ook nie private eiendom raak nie.

“’n Vorige leier van die RP het in die 1989-verkiesing dit so gestel: As jy ’n koei het, het jy ’n keuse.

“Jy kan die koei slag en vir ’n week of twee kan jou familie lekker eet, maar dan is dit verby. Of jy kan die koei voer en versorg, dan het jou familie melk vir jare daarna,” het mnr. Mudge gesê.

“Jy mag nie die koei benadeel of mishandel nie, want dan sal sy minder melk gee…”

Net so mag Namibië se natuurlike bronne, soos dikwels onder die huidige Regering gebeur, nie volgens die RP geplunder of soos die koei, geslag word nie.

“Dit (die bronne) moet nooit ter wille van politieke oorwegings uitgedeel word aan mense wat dit net in belang van ’n paar bevoorregtes en nie in belang van die massa onbevoorregte mense sal uitbuit nie. Hulle is die mense wat wag op die melk.”

Swapo se uitdeel van viskonsessies aan ondersteuners wat dit dan weer teen ’n wins smous, is volgens mnr. Mudge ’n sprekende voorbeeld van die euwel. Met die bestuur van water en staatsgrond geld volgens die RP dikwels dieselfde filosofie.

Die werwing van plaaslike aandeelhouers deur buitelandse maatskappye wat onder meer mineraalbronne wil ontwikkel, moet volgens mnr. Mudge geskied op meriete, kennis en die bydrae wat Namibiese vennote kan maak.

“Nie soos in die geval van ’n nuwe Franse maatskappy wat ’n Swapomaatskappy, Kalahari Holdings, as ’n vennoot moes aanvaar nie. Wat baat die mense van Namibië daarby? As die nuwe, onbevoegde vennoot nie toegelaat word om die onderneming te beduiwel nie, dan kry die staat ten minste die belasting op winste.

“Maar wat van die deel van die wins wat na Kalahari Holdings gaan en wat uitsluitlik in belang van die Swapo-party aangewend gaan word?”

Soos op Swakopmund onlangs het mnr. Mudge herhaal dat die staat veel liewer so ’n aandeel vir die burgery moet opeis. Dan kan winste minstens na die staatskas vloei en tot voordeel van almal in die land teruggeploeg word.

Oor regstellende aksie het die RPleier gesê dat die Grondwet die opheffing eis van “persone” wat in die verlede benadeel is – en nie groepe of “’n klas van persone” soos Swapo oorspronklik wou hê nie.

Die Regering se huidige vertolking waarvolgens alle swart mense benadeeldes is en wittes bevoordeel was, al is die teendeel soms waar, beteken volgens mnr. Mudge dat Swapo dus tog maar hul enger siening van die saak op almal afgedwing het. Dit trek na sy mening nou grense tussen mense waar die onderskeid glad nie meer nodig of geldig is nie, en veroorsaak dat veel meer mense benadeel as bevoordeel word.

Boonop gebruik niemand eens hul reg om hof toe te gaan wanneer regstellende aksie ander fundamentele regte vertrap nie.

“Is ’n kind wat na onafhanklikwording in ’n moderne skool onderrig is, benadeel as gevolg van diskriminerende diskriminerende wetgewing wat voor sy geboorte van toepassing was?” wou die RP-leier weet. “As hy boonop grootgeword het in die luukse woning van ’n pa wat as gevolg van regstellende aksie skatryk is, moet hy bevoordeel word net omdat hy swart is?

“Hoe lank sal dit neem voordat hierdie kind nie meer as ‘disadvantaged’ beskou word nie?

“Hierdie kinders gaan saam skool, hulle neem saam aan sport deel en bring hul maats saam huis toe. Waarom nou lyne tussen hulle trek wat goeie verhoudings kan versteur?”

Twintig jaar na onafhanklikwording is die staatsdiens volgens mnr. Mudge voorts sekerlik reeds gebalanseerd genoeg.

“Hoe lank moet ons aanhou?” het hy gevra. “Seker tot die ou koppe wat nog steeds ‘struggle’ dood is?”

Die RP glo daar gaan groot verandering in hierdie soort verstokte denkpatrone wees wanneer die jonger geslag begin oorneem.