
Me. Lorette Van Zyl, visepresident van die Namibiese Rooikruisvereniging, kom gister op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aan nadat sy Saterdagoggend uit Ethiopië gedeporteer is.
DIE visepresident van die Namibiese Rooikruisvereniging, me. Lorette van Zyl, is Vrydagaand met haar aankoms in Addis Abeba, Ethiopië, toegang tot die land geweier – skynbaar op grond van haar velkleur en Namibië se buurmanskap met Suid-Afrika.
Sy moes 'n vergadering van dié vereniging se internasionale liggaam daar gaan bywoon en is dit belet vanweë die opvatting dat Namibië as buurland van Suid-Afrika net so skuldig is aan die onlangse vlaag xenofobiese aanvalle.
Me. Van Zyl is Saterdagoggend nadat sy die nag op ‘n koue vloer in die lughawegebou moes deurbring, na Namibië gedeporteer. Dit was ondanks verskeie pogings van die Namibiese ambassade om haar in die land toegelaat te kry. ‘n Ontstelde me. Van Zyl het gistermiddag uit Johannesburg by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako aangekom.
“In my hele lewe het ek nog nooit so iets beleef nie. ‘n Mens sien hierdie goed gewoonlik net op televisie.” Volgens haar het sy Vrydagaand saam met die ander passasiers uit Johannesburg in die lughawegebou in Addis Abeba gewag om deur die immigrasiebeheerpunt te gaan. Voor haar in die ry het ‘n wit Suid-Afrikaanse man gestaan.
“Toe hy voor by die immigasiebeampte kom, wou hulle hom nie inlaat nie. Hulle het vir hom gesê dit is sy mense in Suid-Afrika wat die Ethiopiërs doodgemaak het en hulle gaan hom nie toelaat om in hul land te kom nie. En toe neem hulle sy paspoort en ander dokumente af.”
Sy sê toe dit haar beurt is, het die immigrasiebeampte haar paspoort een kyk gegee en dieselfde gesê en gedoen. “Hy is ‘n Suid-Afrikaner, hy is wit en sy land word met die xenofobiese aanvalle verbind – ek kan nog verstaan dat dit hulle ontstel het. Maar om my, as ‘n witte uit Namibië, Suid-Afrika se buurland, oor dieselfde kam te skeer…”
Me. Van Zyl sê die immigrasiebeamptes was uiters onbeskof en aggressief teenoor haar. “Ek het kalm gebly en nie teruggepraat nie. Selfs al het hulle oor en oor vir my geskree: ‘Jy moet die land verlaat! Jy moet die land verlaat!’” Sy sê selfs toe die Namibiese ambassade tussenbeide probeer tree het, wou hulle van niks weet nie. Deportasie was haar voorland.
Volgens haar kon die swart Suid-Afrikaners en Namibiërs op die vlug sonder moeite deur doeane gaan. “Ek kan dit nie verstaan nie. My papierwerk was tog in orde. Selfs nie eens my betrokkenheid by die Rooikruisvereniging kon hulle oortuig om my in Ethiopië in te laat nie.”
Vertel me. Van Zyl verder: “Dit is eers toe hulle my Saterdag dwing om in die vliegtuig te klim terug na Suid-Afrika, dat iets in my geknak het. Ek het vir hulle gesê ek weier om terug te gaan. Hulle het my heel agter in die vliegtuig laat sit; seker omdat hulle bang was ek spring op en hardloop uit.” Me. Van Zyl sal vandag die kwessie met mnr. Toivo Ya Toivo, veteraanpolitikus en president van die Namibiese Rooikruisvereniging, bespreek.