19.01.2012 Rompslomp hou Somaliërs in onsekerheid
DIE dertien Somaliese vlugtelinge wat in die Seeis-polisieselle in aanhouding is, bevind hulle in ’n skaakmatposisie weens burokratiese rompslomp en swak administrasie in die Ministerie van Binnelandse Sake en Immigrasie.
Teenstrydige benaderings en gebrekkige kommunikasie in die geledere van die twee hoofrolspelers in die lot van die vlugtelinge (die kantore van die kommissaris van vlugtelingadministrasie en die van die hoof van immigrasie) het tot dusver daartoe gelei dat die mans eersdaags gedeporteer gaan word. Hulle is glo verlede week ingelig dat hulle via Zambië na Kenia, Tanzanië en dan na Somalië teruggestuur gaan word.
Die stap word nie net as ongrondwetlik bestempel nie, maar kan tot ’n internasionale skandaal lei. Dit druis in teen ’n beroep op alle lande wat die Verenigde Nasies se konvensie oor vlugtelinge onderteken het, om nie vlugtelinge na die oorloggeteisterde land terug te stuur nie.
Namibiese owerhede oorweeg glo verder om plaaslike wetgewing asook ander internasionale konvensies te oortree aangesien twee van die aangehoudenes as minderjariges beskou word. Hierdie jongelinge, tans 17 en 18 jaar onderskeidelik, word beskerm deur die Regte van die Kind en die wet op die versorging van kinders wat bepaal dat aanhouding die laaste uitweg moet wees en dat alternatiewe sorg vir hulle gevind moet word. Die agtienjarige was glo net 17 toe hy verlede jaar deur immigrasiebeamptes aangekeer is.
Die kommissaris van vlugtelingadministrasie, mnr. Nkrumah Mushelenga, het aan Republikein gesê hy weet nie waarom sy kollegas van immigrasie nie die vlugtelinge by sy kantoor aangemeld het sodat hulle na die Osire-vlugtelingkamp gestuur kan word nie. Volgens hom bestaan duidelike bepalings oor die prosedure wat gevolg moet word sou vlugtelinge in ’n land aangetref word en om asiel aansoek doen.
Hy het gesê selfs al was die mans sonder die nodige dokumente in die land aangetref, moes hulle nie in hegtenis geneem word nie, maar dat hulle kragtens onder meer artikel 97 van die Grondwet toegelaat moet word om om vlugtelingstatus aansoek te doen.
“Daar is menslikheidsaspekte hieraan verbonde. Ons land neem nie vlugtelinge in hegtenis en deporteer hulle nie. Ons deporteer nie mense nie, ons doen net vrywillige repatriasie sou hulle na hul geboortelande wou terugkeer. Ons mag hulle nie dwing om na hul tuislande terug te keer nie,” het Mushelenga gesê.
Een van die mans, die 25-jarige Arwah, het Maandag glo tydens ’n onderhoud met mnr. Phil Ya Nangoloh van die menseregteorganisasie NamRights aangedui dat hy in die Osire-vlugtelingkamp in hegtenis geneem is waar hy reeds sy aansoek om asiel voltooi het en as vlugteling geregistreer was. Sy dokumente is glo ook intussen deur immigrasiebeamptes gekonfiskeer.
Ya Nangoloh het hulle besoek om seker te maak dat hulle goed behandel word en weet wat hul regte is. Hy het onder meer glo aan hulle gesê dat hulle die reg het om teen hul deportasie te appelleer.
Die mans wat sedert April en Augustus verlede jaar in aanhouding is, het glo in September voor ’n immigrasietribunaal verskyn wat oor hul lot besluit het.
Net Arwah is glo Engels magtig en is die enigste wat nie voor die tribunaal verskyn het nie aangesien hy glo “deur die Verenigde Nasies verwerp is en hulle hom nie meer wou hê nie”. Die twaalf ander wat nie Engels magtig is nie of dit net gebrekkig kan praat, moes glo sonder die hulp van ’n geswore tolk hul saak aan die tribunaal stel.
Mnr. Festus Hamukwaya, beskermingsbeampte van die VN se Hoë Kommissariaat vir Vlugtelinge (UNHCR) in Namibië, het die voorval gister ontken en gesê die UNHCR sal nooit ’n vlugteling sy status ontneem nie. “Ons neem nie sulke besluite nie, al wat ons doen is om raad aan regerings te gee en om te hoop dat hulle dit volg,” het hy gesê.
Die UNHCR het reeds in Mei 2010 ’n dringende beroep op regerings wêreldwyd gedoen om nie mense onder dwang na Somalië terug te stuur nie. Dit is ’n beroep wat volgens Hamukwaya steeds geldig is.
Hy het gister versoek dat die mans vrygelaat moet word en die geleentheid gegee moet word om om asiel aansoek te doen. “Hulle moet die geleentheid kry om hul storie te vertel, sodat die regsproses sy gang kan gaan.”
Die mans het glo appèl teen hul deportasie probeer aanteken, ’n reg wat glo geweier is.
|