
So lig as wat die motor in die hande van bemarkers van Bank Windhoek se voertuig- en batefinansieringstak lyk, so lig gaan pryse tydens die jaarlikse motorskou van Bank Windhoek en Republikein op die sak van kopers wees na die aankondiging van rentekoerse van prima minus drie persent.
MIDDE ‘n vlaag van negatiewe nuus van hemelhoë brandstofpryse en ander kommoditeite waarvan die pryse noodwendig ook opwaarts aangepas gaan word, is Bank Windhoek se aankondiging gisteraand in Windhoek van ‘n afwaartse rentekoersaanpassing van prima minus drie persent op die aankoop van nuwe voertuie by die komende motorskou, ‘n welkome ligpunt vir die Namibiese koperspubliek.
Die aankondiging deur die uitvoerende afdelingshoof: spesialisfinansiering van Bank Windhoek, mnr. Chris Mathee, is tydens die amptelike bekendstelling van die Bank Windhoek/ Republikein Motorskou gemaak wat later vandeesmaand in Windhoek gehou word.
Hy het gesê die aanbod van prima minus drie persent op nuwe motors by die motorskou, en prima minus 1.5 persent op nuwe en gebruikte voertuie vir handelaars buite Windhoek, is geldig vir die duur van die motorskou (29 – 31 Mei). Die gunstige rentekoersaanpassing deur Bank Windhoek is met groot geesdrif deur motorhandelaars begroet.
Dit beteken ook dat Namibiërs wat van die aanbod gebruik maak, letterlik duisende dollar kan spaar. Diegene wat dus gedurende die skouperiode ‘n voertuig van N$120 000 by enige van die handelaars koop wat daar uitstal, kan sowat N$308 op ‘n maandelikse paaiement oor 54 maande spaar. Dit is ‘n totale besparing van meer as N$16 600 oor die volle tydperk.
Op ‘n voertuig van N$200 000 is die totale besparing N$27 700, op ‘n voertuig van N$250 000 N$34 700 en op ‘n voertuig van N$300 000 byna N$42 000. Dié meevallertjie is ‘n vars bries wat oor andersins droewe ekonomiese vooruitsigte waai. Van die handelaars het ook reeds aangetoon dat hulle benewens die rentekoersaanpassing van Bank Windhoek, kliënte gaan subsidieer om op sommige geselekteerde voertuie op die skou, finansiering teen so laag as prima minus vyf persent te bekom.
‘n Gelukstrekking waar kopers tot N$1 miljoen kan wen, gratis brandstof ter waarde van meer as N$20 000 en talle ander spesiale aanbiedinge op verskillende voertuie, gaan alles deel van die motorskou uitmaak. Die skou word deur Bank Windhoek geborg en vorm deel van die jaarlikse Namibiese Toerisme Expo. Alle vooraanstaande motorhandelaars in die land gaan daar wees.
“Ons borgskap van die motorskou dien as teken van ons verbintenis tot die bou en versterking van verhoudinge met alle rolspelers in die motornywerheid. Die spesiale aanbod stel ons in staat om ‘n geleentheid vir motoraankope te skep waarby handelaars en die publiek kan baat vind,” het mnr. Mathee gesê.
Die uitvoerende redakteur van die DMH-groep, mnr. Chris Jacobie, het by die geleentheid gesê kundige vennootskappe soos wat gesluit is tussen Bank Windhoek, Republikein en die motornywerheid moet vir ander as voorbeeld dien van hoe almal baat kan vind as gesamentlike kragte in dieselfde rigting aangewend word.
Die Namibiese Toerisme Expo dien reeds vir jare as ‘n vertoonvenster vir die land se talle opwindende toeriste-aanloklikhede en is ontwerp om elke moontlike aspek wat oor die bedryf handel, ten toon te stel. Volgens mnr. Jacobie is vervoer ‘n integrale deel van die toerismebedryf en vir hom is dit net ‘n logiese uitvloeisel dat die motorskou ‘n integrale deel daarvan vorm. Verlede jaar is rekordverkope van tussen N$14 – N$20 miljoen by die motorskou behaal wat nie net ‘n goeie inspuiting vir die motorhandel was nie, maar vir die ekonomie in die algemeen.