18.01.2010 Reën val van hoek tot kant
 Vlieënde miere het ’n welkome middagete vir hierdie swerm valke en ander voëls gemaak. Die foto is Saterdag deur Vic Engelbrecht net buite Karibib geneem. ’n Hewige reënbui het dieselfde middag ook op die dorp uitgesak. Stuur jou lesersfoto’s na laatnuus@republikein.com.na.
TERWYL die Hardapdam byna sewentig persent vol is, is die Nautedam se sluise vir die tweede maal die afgelope week oopgetrek.
Terselfdetyd is inwoners wat langs die Kavangorivier woon gewaarsku dat hulle na hoër grond moet beweeg sodat ’n ramp voorkom kan word. ’n Totaal van 11,07 miljoen kubieke meter water is reeds uit die Nautedam gelaat nadat die sluise vir die tweede maal oopgetrek is.
Dit is bykans die helfte van Windhoek se jaarlikse watergebruik, met Windhoekers wat jaarliks sowat 21 miljoen kubieke meter water gebruik.
Intussen het die Hardapdam buite Mariental gisteroggend 69,4% van sy kapasiteit bereik. Volgens die jongste rivierverslag is geen nuwe vloei egter in die opvangsgebied van die dam aangeteken nie. Sou nuwe vloei in die opvangsgebied van die dam voorkom, kan die vlak verder tot 70% styg. Die sluise van die dam sal oopgetrek word indien die dam 70% bereik.
Die Nautedam se sluise is Vrydag om 10:00 oopgemaak en 11 ure later weer gesluit nadat 6,47 miljoen kubieke meter water uitgelaat is. Van 10:00 tot 14:00 is die water teen 110 m³/s uitgelaat waarna dit tot 200 m³/s vermeerder is.
Teen gistermiddag was die dam 100,4% vol. Daarbenewens het die eerste vloed van die seisoen Vrydag die Seeheim in die Visrivier bereik en ’n hoogte van 1 meter is in die rivier gemeet. Teen Sondag is geen nuwe vloede by Seeheim aangemeld nie en het dit begin terugtrek.
Die water wat die afgelope week van die Nautedam uitgelaat is, het Ai-Ais op ’n hoogte van 0,16 meter bereik.
Die Kavangorivier, wat vanjaar vroeg begin styg het, was gistermiddag 6,57 meter hoog nadat dit sedert die vorige dag met 6 cm gestyg het. Verlede jaar was die rivier 5,51 meter hoog terwyl die normale hoogte 4,66 meter is.
Volgens die rivierverslag was die Kavangorivier egter in 1962, 1968 en 2005 hoër, maar verlede jaar het die hoofvloede eers tydens Februarie en Maart plaasgevind en op 20 Maart het die rivier ’n hoogte van 8,65 meter bereik.
Inwoners wat langs die rivier woon, is gewaarsku om so gou as moontlik na hoër grond te trek om ’n ramp te voorkom, berig Nampa.
Volgens Namwater se verteenwoordiger in die Kavango-streek, mnr. Likoro Godfried, is daar ’n moontlikheid dat vloede weer vanjaar in die streek mag voorkom. Kinders is ook gewaarsku om nie water by die rivier te gaan haal nie aangesien hulle maklik deur krokodille en seekoeie aangeval kan word.
Verlede jaar het vloede in die streek 7 000 inwoners geraak en 27 vloedkampe moes gestig word.
Volgens die weerkantoor het Mariental die naweek die hoogste reënvalsyfer ontvang. Die dorp het Vrydag 54,2 mm aangeteken. Nkurenkuru het 22 mm ontvang en Otjiwarongo 12,6 mm.
In die hoofstad het reënbuie ook aanhoudend geval en by die weerkantoor in Windhoek is Vrydag 10,6 mm gemeet, Academia 12 mm en Suiderhof 8 mm.
Saterdag is by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako 4 mm gemeet. Op Hochfeld is Sondag 40 mm aangeteken, Otjinene 27,5 mm, Goedemoed-plaas 20 mm, Internasional Lughawe Hosea Kutako 12,6 mm, die weerkantoor in Windhoek 10,2 mm en Rundu 10,5 mm.
|