10.11.2008

Rekordprys vir skaapram


Mnr. Piet du Toit (middel) het Donderdag by die nasionale dorperveiling op Upington in die Noord-Kaap N$525 000 opgedok vir hierdie witdorperram van mnr. Kosie Esterhuizen (links) van Koës. By hulle is die afslaer, mnr. Deon Klopper.
‘n NAMIBIESE boer het Donderdag tydens die Suid-Afrikaanse nasionale dorperveiling op Upington in die Noord-Kaap sy naam in die internasionale rekordboeke verewig toe hy ‘n witdorperram vir N$525 000 van die hand gesit het.

Mnr. Kosie Esterhuizen van Koës se tipe 5 witdorperram is tydens die veiling van KLK Landbou Bpk deur mnr. Piet du Toit van Rooiduin Dorpers by Vanzylsrus gekoop. Me. Winnie Esterhuizen, sy vrou, het Vrydag vanaf hul plaas in die Kalahari vertel dat haar man “nie naastenby” verwag het om so ‘n goeie prys te kry nie.

Sy stoetery, Constantia Witdorpers, is 12 jaar oud. Die tweede hoogste prys van N$325 000 is Donderdag betaal vir ’n dorperram van Willow Tree Stud Farm van mnr. Andy van der Meulen van Tarkastad. Die koper was mnr. Sakkie Liebenberg van die Hoeksplaas Dorperstoet.

Die hoogste prys vir ’n witdorperooi was N$40 000 stuk en is betaal vir twee witdorperooie wat ook aan mnr. Esterhuizen behoort het. Mnr. Du Toit was in dié geval ook die koper.

Hy het ook die hoogste prys (N$27 500) betaal vir ‘n dorperooi van mnr. Sarel Strauss, eienaar van die Rooidam Dorperstoet. Die omset van die veiling, met die gesoute mnr. Deon Klopper as afslaer, het N$5 128 300 beloop. Dit was mnr. Klopper se 20ste nasionale dorperveiling op Upington.