25.07.2008 Rehoboth keelvol
ONTEVREDENHEID onder Rehoboth- inwoners oor die werksaamhede van die dorpsraad is besig om ’n kritieke stadium te bereik met ’n vreedsame betoging teen die raadslede wat Maandagoggend met die oorhandiging van ’n petisie by die raadskantore sal eindig. Die wending kom kort nadat die dorpsraad met sy jongste vergadering weer regstreeks in die sake van die plaaslike tenderraad ingemeng het deur die nagwadienskontrak weer aan die broer van die burgemeester toe te ken.
Dié optrede is nie vreemd aan die dorpsraad nie en die permanente sekretaris van die Ministerie van Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, mnr. Erastus Negonga, het reeds in Julie 2005 gewaarsku dat drastiese ingryping nodig is om die wanpraktyk van inmenging in administratiewe aangeleenthede stop te sit.
Na die waarskuwing wat in ’n ouditverslag vervat is en onder die aandag van die raadslede gebring is, het hulle voortgegaan en in April vanjaar sommer vier personeelaanstellings gemaak sonder dat die poste geadverteer was. Die burgemeester, mnr. George Dax, het in sy toespraak na die vier verwys en daarna aanbeveel dat hulle in ’n permanente hoedanigheid aangestel moet word.
Die vier is sy persoonlike assistent, mnr. Sagaria Haakskeen, die dorpsgronde-administrateur, mnr. Menthol Links, die MIV/vigsadministrateur, mnr. P. Skrywer, en die gesondheidsadministrateur, me. Julia McNab. Die einde van die regstreekse inmenging was egter nog nie in sig nie en die jongste geval is die toekenning van ’n tender vir die nagwadiens aan mnr. Stephanus Dax.
Die voormalige streekraadslid van die Rehoboth-Oos kiesafdeling was reeds vroeër vanjaar in die hof toe hy vir mnr. Rudolf Schuster met ’n knopkierie oor die kop geslaan het. Die kern van die saak glo was die verwydering van nagvuil en die reuk wat die vragmotor afgee wanneer dit by die huis geparkeer word. Die afgelope Maandag tydens ’n raadsvergadering het die verlenging van die kontrak ter sprake gekom en die burgemeester het soos dit van ’n betaamlike amptenaar verwag word, die vergadering verlaat omdat die kwessie oor sy broer sou handel wat ’n konflik van belange kon veroorsaak.
Die nagwa-broer het sy prys vir die verwydering van die nagvuil met N$13 000 per maand verlaag wat meebring dat die dorpsraad hom N$26 000 per maand vir dié diens moet betaal. Die drie raadslede wat ten gunste van die verlenging van die kontrak gestem het, was mnr. Bongo Ihalwa en me. Cecilia Sherally-McNab van Swapo en mnr. Benjamin Jagger van die Congress of Democrats (CoD). Mnr. Dawid Richter van Swapo en me.
Katrina Benz van die DTA het daarteen gestem. Die tenderraad sal egter eers Maandag oor die kwessie moet besluit, maar sal nou onder druk van die raad wees om die tender weer aan mnr. Stephanus Dax toe te ken. Intussen weier die burgemeester om ’n Swapo-opdrag uit te voer deur mnr. Richter as voorsitter van die bestuurskomitee aan te stel en mnr. Ihalwa uit dié posisie te haal.
Hy het glo besluit om nou eers ’n regsmening in te win en vir dié doel gaan die dorpsraad se geld glo gebruik word. In Februarie vanjaar het Swapo besluit dat geen veranderinge in die bestuurskomitee op Rehoboth gemaak sal word nie, maar dit is deur mnr. Dax en andere geminag.
|