REHOBOTHERS moet met die verkiesings opstaan en beheer van hul eie sake neem sodat verandering wat te lank agterweë gelaat en verwaarloos is, in hierdie belangrike sentrum van Namibië kan plaasvind
“Maak ons sterk en ons maak julle sterk,” was mnr. Henk Mudge se boodskap.
Die leier van die Republikeinse Party (RP) het op die party se vergadering op Rehoboth gesê die RP kan help om die inwoners se hoop en aspirasies te vervul, maar dat die mag van verandering in die hande lê wat ’n kruis op die stembrief moet trek. Hy het in sy boodskap die inwoners Saterdag gevra om op te staan omdat hulle die mag het om verandering op hierdie dorp en in die res van die land teweeg te bring.
“Alles lê in jul hande,” het mnr. Mudge gesê. Voorts was die belofte uit die mond van die partyleier hard en duidelik dat die party na die dorp gekom het om die boodskap van verandering te bring en met die ondersteuning van die inwoners die party diep by Rehoboth se kiesers in te grawe.
Mnr. Mudge het die gehoor daarop gewys dat indien sy party in die komende presidents- en nasionale verkiesings asook in die plaaslike verkiesings volgende jaar seëvier, die RP van voorneme is om die administrasie van die dorp aan die inwoners van Rehoboth terug te gee.
“Ons gaan nie Owambo-sprekendes uit Oshakati hier op Rehoboth aanstel soos die geval nou is nie,” het hy belowe. Dit is volgens hom nou tyd om op te staan en Swapo te wys dat die Basters nie deur ’n paar onbevoegde Swapo-leiertjies geregeer kan word nie. Mnr. Mudge het ook uitgevaar teen UDF, RDP en die CoD. Hy het gevra wat die leiers in daardie partye vermag het toe hulle voorheen in Swapo was. Wat het geword van die beloftes van destyds, het hy gevra.
“Ons gaan hier op Rehobth begin om die agtergeblewe gemeenskappe op te hef. Die mense wat arm is, gaan eerste aandag kry en daarna sal ons aan die hele land se probleme aandag gee en dit beslis oplos.
“Ons gaan ons aandag vestig op mense wat swaarkry en geen inkomste het nie. Hierdie land is ryk aan natuurlike hulpbronne, maar onder die naam van ‘swart bemagtiging’ word die rykdom uit diamante, goud en plase onder Swapo’s verdeel.
“Selfs partye soos die DTA en die ander vergeet van die kiesers sodra hulle in die Parlement kom, maar RP gaan by sy woord staan en veg vir sy kiesers se regte. “Ons gaan nie Parlement toe om salarisse of posisies te verdien nie, maar om mense op die voetsoolvlak te verteenwoordig. Dus, begin nou om jul leiers te kies vir volgende jaar se tweedevlak owerheid,” het hy gesê.
Volgens hom sit die land met ’n skokkende werkloosheidsyfer. In plaas daarvan dat die Regering ontwikkelings- en werkskeppingsprojekte moet aanpak, sit en slaap sy leiers in die Parlement. RP gaan volgens hom arbeidsintensiewe ontwikkelingsprojekte na Rehoboth bring.
Mnr. Mugde het voorts ’n striemende aanval geloods op die swak onderwysstelsel en swak gesondheidsdienste waar mense deur onbekwame buitelandse dokters en verpleegsters behandel word en sonder medikasie behalwe Panado gesond moet word.
“Ons moet dus opstaan en sê dat genoeg genoeg is, want ons het jul ondersteuning nodig om veranderinge teweeg te bring. Dra hierdie boodskap uit na al die inwoners sodat daardie kruisie agter die RP die verskil maak vir jul eie beswil,” het hy gesê.
Mnr. Mudge het voorts belowe dat hy by die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste gaan aandring om wetgewing rakende dwelm- en drankmisbruik ter tafel te lê omdat die mense as gevolg hiervan vernietig word.
“Mense raak verslaaf met vieslike gevolge,” maar blykbaar is dit nie ’n probleem nie.
Hy wou voorts op die vergadering hoor watter bevolkingsgroep sjebeens in Rehoboth en ook oor die hele land besit. Daarna het hy belowe dat hy ’n veldtog teen sjebeens op Rehoboth van stapel gaan stuur as hy deur die inwoners gehelp word om dit uit te voer.