1. (a) In die bepaling van hul siviele regte en verpligtinge of enige kriminele aanklag teen hulle, is alle persone geregtig op ’n regverdige en openbare verhoor deur ’n onafhanklike, onpartydige en bevoegde hof of tribunaal: met dien verstande dat sodanige hof of tribunaal die pers en/of die publiek van die hele of enige gedeelte van die verhoor mag uitsluit om redes van moraliteit, openbare orde of nasionale veiligheid soos dit nodig mag wees in ’n demokratiese gemeenskap.
(b) ’n Verhoor volgens Subartikel (a) hiervan moet binne ’n redelike tydperk plaasvind, so nie moet die beskuldigde vrygelaat word.
(c) Uitsprake in kriminele sake moet in die openbaar gemaak word, behalwe waar die belange van jeugdiges of moraliteit anders vereis.
(d) Alle persone wat van ’n misdryf aangekla word, moet as onskuldig beskou word totdat hulle kragtens wet skuldig bewys word nadat hulle die geleentheid gehad het om getuies te roep asook om die wat teen hulle getuig onder kruisverhoor te neem.
(e) Alle persone moet genoegsaam tyd en geleentheid gegun word ter voorbereiding en indiening van hul verweer, sowel voor die aanvang asook gedurende hul verhoor, en moet geregtig wees op verdediging deur ’n regspraktisyn van hul keuse.
(f) Niemand mag gedwing word om getuienis teen hulself of hul gades, wat insluit eggenotes in gewoontereghuwelike, te lewer nie, en geen Hof mag getuienis in bewyslewering toelaat teen sodanige persone wat strydig met Artikel 8(2)(b) hiervan van sodanige persone verkry is nie.
2. Niemand mag weer verhoor, veroordeel of gestraf word vir enige oortreding waarvoor hulle reeds veroordeel of waarvan hulle reeds vrygespreek is volgens wet nie: met dien verstande dat geen bepaling van hierdie Subartikel vertolk mag word as sou dit die bepalings van gemeenregtelike verwere van “vorige vryspraak” en “vorige veroordeling” verander nie.
3. Niemand mag verhoor of veroordeel word vir enige kriminele oortreding of as gevolg van enige handeling of versuim wat nie ’n kriminele oortreding uitgemaak het toe dit gepleeg is nie, en geen straf mag opgelê word wat die straf oorskry wat van toepassing was ten tye van die oortreding nie.