
Adv. Raymond Heathcote
TERWYL wiele gister dadelik in die Regsdienskommissie aan die rol was om ondersoek in te stel na die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) se jongste aanslag op die land se regbank, het die Advokatebalie opnuut vir mnr. Evilastus Kaaronda tot orde geroep.
Die keer het ook die Prokureursorde tot die gesprek toegetree.
Anders as wat die omstrede vakbondleier mag dink, daag hy volgens adv. Harald Geier, president van die orde, inderdaad die eer, aansien en gesag van die howe uit met “algemene, ongekwalifiseerde en ongegronde stellings” wat negatief op die hele regbank en administrasie van geregtigheid reflekteer.
Volgens die orde kom die NUNW se aanval neer op intimidasie, wat uiteindelik by ongeoorloofde beïnvloeding en selfs dwarsboming van die reg kan draai.
“…Om ’n uitspraak te kritiseer deur persoonlike aanvalle op Regters te publiseer en politieke aspirasies uit te druk, is van geen nut in ’n demokratiese gemeenskap nie…” het senior adv. Raymond Heathcote, president van die balie, die leisels ingetrek.
“Sulke optrede dien alleen om die waardigheid van die regbank te ondermyn.”
Volgens die balie weet elke Regter dat hulle hulself liefs van die bank moet verskoon in sake waarby hulle belang het. Indien nie, behoort die Regter eers deur kennis aan die griffier die kans te kry om sy standpunt te stel.
Eers hierna is daar volgens adv. Heathcote geldige gronde vir kritiek.
Mnr. Kaaronda se haelskietery is volgens die balie hierteenoor onverantwoordelik, aangesien dit die hele regbank – sonder om sorge te spesifiseer – in ’n slegte lig plaas.
Die balie, benadruk adv. Heathcote, het nie ’n probleem met enigeen se reg om opbouende kritiek te lewer nie, maar dan moet ’n paar “elementêre stappe” darem eers gevolg word.
“Eerstens moet die uitspraak gelees word.
“Tweedens moet die uitspraak en die betrokke regsbeginsels begryp word.
“Derdens behoort die kritikus die regsbeginsel te kan identifiseer waaroor hy/sy kapsie maak, en ’n oplossing voorstel,” skryf adv. Heathcote.
Volgens adv. Geier sal die Prokureursorde uiters bekommerd wees as mnr. Kaaronda sy uitsprake kan bewys. Dan moet hy egter eers oor dié noodsaaklike hekkie kom.
Die orde het ook uitgewys dat Regters van die Hoërhof reeds wetlik verplig is om enige bykomende werk of winste aan die Regsdienskommissie te openbaar.
Republikein het die waghond, gesetel in die kantoor van Hoofregter Peter Shivute, amptelik om kommentaar genader, maar nog geen reaksie ontvang nie.