
Agter van links is mnr. Ryno van der Merwe, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie, me. Rina Hough, hoofbeampte van die Landbouwerkgewersvereniging en mnr. Sakkie Coetzee, uitvoerende bestuurder van die Namibiese Landbou-Unie. Voor van links is mnr. Gersom Katjimune, besturende direkteur van Mutual & Federal en me. Sonja en mnr. Wilfried Pack, die Jongboer van die Jaar 2007.
STYGENDE insetkoste het Namibiese boere in ‘n knyptang en die Regering sal nou meer as ooit tevore sy produsente by wyse van ‘n gunstige beleid en ander hulp moet ondersteun. Die boere is die eerste skakel in die waardeketting en as hulle nie langer kan produseer nie, staar die land ‘n ramp in die gesig.
Só het mnr. Sakkie Coetzee, uitvoerende bestuurder van die Namibiese Landbouunie (NLU), gister tydens ‘n boeredag op die plaas Grünental by Witlvei gewaarsku. Mnr. Coetzee het in die lig van wêreldwye voedseltekorte en die stygende produksiekoste wat dit vir boere al moeiliker maak om winsgewend te boer, ‘n beroep op die Regering gedoen om produsente na waarde te skat.
“Dit is hoog tyd dat die boer die erkenning kry wat hy verdien. Namibiese boere is in vir ‘n baie rowwe tyd en die land kan nie bekostig om hulle te verloor nie.” Hy het verwys na die hoë rentekoerse, die styging in brandstofpryse en veevoere en gesê veral ontluikende boere wat nog die lenings op hul grond moet diens, gaan sukkel om te oorleef.
‘Ons boere moet hul produk teen die beste moontlike prys kan verkoop. En daarom het hulle ‘n beleidsklimaat nodig wat dit vir hulle sal moontlik maak. As dit nie gebeur nie, sal hulle winsmarges sodanig onder druk kom dat dit katastrofies gaan wees.” Mnr. Coetzee meen dat veral sover dit ontbossing betref, die Regering dringend moet ingryp.
Hy meen deur 50% van die koste te dra van die chemiese stowwe wat boere gebruik om bosindringing hok te slaan, ‘n groot deel van die 26 miljoen hektaar beboste gebied herwin kan word. Dit sal vleisproduksie aansienlik verhoog. Voorts sê hy wys die skrale sowat 4 persent wat uit die nasionale begroting na landbou gaan, dat dié sleutelsektor vir ontwikkeling aan die agterspeen suig.
Dit is ondanks die feit dat dit Namibië se ekonomiese ruggraat is en 70 persent van inwoners vir hul oorlewing daarop steun. Hy het gewaarsku dat die stagnering in die Regering se besteding aan landbou in skerp kontras staan met die beginsels van die Maputoverklaring van 2003 wat bepaal dat lande op die vasteland 10 persent van hul nasionale begroting na landbou moet kanaliseer.
Mnr. Coetzee het ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat landbouvoorligtingsdienste besig is om agteruit te gaan en hy het ‘n beroep op boere gedoen om moeite te doen om hul kennis en vaar-dighede uit te brei sodat hulle meer doeltreffend kan produseer.
Hy het gevestigde kommersiële boere ook oor die vingers getik en gesê hulle moet nie dink hulle het al die kennis in pag en hoef daarom nie die boeredae by te woon wat gereël word om ontluikende en kommunale boere se kennis uit te brei nie.
Mnr. Coetzee was gister een van die sprekers tydens ‘n boeredag op die plaas van mnr. Wilfried en me. Sonja Pack. Mnr. Pack is die NLU se Jongboer van die Jaar vir 2007.