24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

25.08.2010

Regering gryp in oor uitvoere


Dr. Malan Lindeque
DIE dispuut tussen die twee uitvoerabattoirs van beesvleis na Noorweë, Meatco en Witvlei Meat, wat onlangs tot ’n klag van onregverdige kompetisie by die Mededingendheidskommissie (NaCC) gelei het, het ’n nuwe wending geneem nadat die Ministerie van Handel en Nywerheid ingegryp en ’n besluit oor die uitvoerkwota na dié mark geneem het.

Meatco het met die aanbreek van 2010 die grootste deel van die uitvoerkwota na Noorweë bekom volgens ’n eerste kom, eerste geholpe beginsel wat deur die Noorweegse owerheid ingestel is. Witvlei Meat het die saak na die NaCC verwys wat in Julie bevind het dat Meatco nie skuldig is aan ongeoorloofde praktyke rakende die verkryging van die kwota nie.

Die Kommissie het in hul uitspraak gesê die saak is ’n handelsaangeleentheid wat deur die Ministerie van Handel en Nywerheid uitgeklaar moet word. Mnr. Lucius Murorua, voorsitter van die NaCC, het in sy uitspraak voorgestel dat die saak in nasionale belang tussen die twee abattoirs en die Ministerie opgelos moet word.

Noorweë is die mees winsgewende mark vir Namibiese vleis en Namibië en Botswana het ’n gesamentlike ooreenkoms om 2 700 metrieke ton vleis na Noorweë te kan uitvoer.

In briewe wat vroeg in Augustus aan beide Meatco en Witvlei Meat gestuur is, sê dr. Malan Lindeque, permanente sekretaris van Handel en Nywerheid, dat die Kabinet besluit het om die 1 600 metrieke ton wat Namibië kan uitvoer, voortaan gelykop tussen die twee abattoirs te verdeel.

“Die volgende voorwaardes is egter deur die Kabinet gestel in terme van die ooreenkoms en moet streng nagevolg word. Die totale beesvleisuitvoerkwota na Noorweë sal tussen die huidige en toekomstige geregistreerde Namibiese vleisuitvoerders wat gesertifiseerde uitvoerders na die Europese Unie is, verdeel word.

“In die lig hiervan het die Kabinet ’n 50/50 verdeling van die kwota tussen Meatco en Witvlei goedgekeur in ag genome dat dit huidig die enigste gesertifiseerde uitvoerders is. Die Regering sal egter die kwotatoekenning aan dié twee abattoirs heroorweeg om voorsiening te maak vir nuwe aansoekers wat Namibiese, Europese Unie en Noorweegse uitvoergoedkeuring het.

“Om seker te maak dat die Noorweegse markvoordeel aan alle kwalifiserende Namibiese vleisuitvoerders beskikbaar is, sal die Vleisraad van Namibië deur middel van ’n kennisgewing in die media aansoeke vir permitte vir die uitvoer van beesvleis na Noorweë drie maande voor die einde van elke kalenderjaar (op 1 Oktober) aanvra. Dit sal vanaf 2011 in werking wees ten opsigte van die kwota vir 2012 en daaropvolgende jare,” skryf dr. Lindeque.

Hy sê ook dat die Vleisraad vanaf 2011 twee maande voor die einde van die kalenderjaar die aansoekers van die kwota wat aan hulle toegeken is, sal inlig en uitvoerpermitte sal uitreik wat vir ’n jaar geldig is en die toegekende kwota weergee.

“As voorwaarde van die uitvoerpermit, moet elke permithouer uitvoereteen die einde van Junie elke jaar terugvoer aan die Vleisraad gee oor die totale uitvoere wat in die jaar gedoen is.

“As ’n uitvoerpermithouer nie die uitvoerverpligtinge teen 30 Junie elke jaar nakom nie, sal sy permit ongeldig verklaar word en sal sy kwotatoekenning aan ander uitvoerders wat hul uitvoerverpligtinge nagekom het en ’n behoefte aan ’n groter kwota het, hertoegeken word,” sê dr. Lindeque.

Verontagsaming van die voorwaardes van die uitvoerpermit en die algemene beesvleisuitvoerkwotastelsel wat daarin vervat is, sal die entiteit wat hieraan skuldig is, onbevoeg maak vir ’n kwota in die komende jaar. Volgens die ooreenkoms sal beide Meatco en Witvlei Meat voortaan geregtig wees om 800 metrieke ton elk na Noorweë uit te voer.

By navraag het die hoof uitvoerende beampte van Meatco, mnr. Kobus du Plessis gesê dat die nuwe reëling hou betekenisvolle verliese vir Meatco in. Mnr. Sidney Martin, voorsitter van die raad van direkteure van Witvlei Meat, het sy maatskappy se tevredenheid met die besluit uitgespreek.

Volgens hom moes die Regering al ingegryp het toe Witvlei destyds tot die uitvoermark vir vleis toegetree het.

“Meatco het net met hul gewoontereg uitgeoefen en aangehou om die kwota te vul. Daar het nooit ’n eerste kom, eerste geholpe klousule in die uitvoerooreenkoms met Noorweë bestaan nie.”

Hy het ook te kenne gegee dat Witvlei Meat gaan aansoek doen dat die datum waarteen die abattoirs aan die kwotavoorwaardes moet voldoen, naamlik 30 Junie, tot September verleng word.

“Dit is nie tot voordeel van die bedryf om die kwota voor Junie te vul nie. Die internasionale mark is baie sensitief. As ons gedwing word om voor Junie die kwotas te vul, kan dit gebeur dat die internasionale kopers die pryse van die vleis afdwing,” het hy gesê.