7.09.2009 RDP versprei nuusbrief landwyd
 Die RDP se sekretaris van inligting en publisiteit, mnr. Jeremia Nambinga en sy adjunk, mnr. Nghiningilwandubo Kashume.
DIE Rally for Democracy and Progress (RDP) het Donderdag ’n maandelikse nuusbrief bekend as “The Voice of Change” bekendgestel.
Volgens die RDP se sekretaris van inligting en publisiteit, mnr. Jeremia Nambinga, is ’n stroom versoeke van partylede en ondersteuners vir meer inligting oor die party sedert die stigting daarvan ontvang.
Ondanks nuusdekking in koerante wil ondersteuners meer oor die party weet, veral aangesien die NBC volhard om min of geen publisiteit aan die RDP te gee nie. Groot openbare RDP-vergaderings op Rundu en Ohangwena het geen nuusdekking op NBC gekry nie.
Mnr. Nambinga het aangekondig dat die nuusbrief nie net in dorpe en die hoofstad nie, maar in elke uithoek van die land en die voetpaaie na landelike nedersettings versprei sal word.
Die nuusbrief sal aanvanklik maandeliks verskyn, met die moontlikheid om dit twee keer per maand te publiseer. Kwessies wat die alledaagse lewens van Namibiërs raak, sal in die nuusbrief bespreek word.
Die RDP nooi ook belangstellendes wat meer van die party te wete wil kom deur die party se webtuiste www.rdp.org.na te besoek.
Mnr. Nambinga sê dit wil voorkom asof kullery met die komende verkiesings reeds aan die gang is.
Die party is ingelig dat ’n koördineerder van die Verkiesingskommissie in Caprivi, mnr. Alfred M. Mbukusha, ’n splinternuwe afbakeningskaart vir kiesafdelings in dié streek op ’n vergadering vertoon het. Die vergadering was vir alle politieke partye op 27 Augustus op Katima Mulilom gereël.
“Hierdie afbakenings is nêrens in ’n Staatskoerant gepubliseer nie en is heeltemal in stryd met die wette van die land. Teen hierdie agtergrond dring ons daarop aan dat die Verkiesingskommissie hom uitspreek oor die saak,” het mnr. Nambinga gesê. Hy sê die RDP het dit reeds met die Verkiesingskommissie opgeneem, maar geen antwoorde kon verkry word nie.
Mnr. Nambinga het ook ’n beroep op alle stemgeregtigde Namibiërs wat nog nie besluit het vir wie om in die komende verkiesings te stem nie, gedoen om die RDP te oorweeg. Hy sê baie mense het in die verlede besluit om nie te stem nie. Die tyd het egter nou aangebreek dat kiesers hul stemme vir verandering in die land uitbring.
Voornemende kiesers is opnuut herinner dat bykomende kiesersregistrasie vanaf 17 tot 31 September sal plaasvind. Almal moet seker maak dat hulle nog in besit van hul kieskaarte is en indien dit verlore is, moet hulle betyds weer registreer sodat hulle in besit van die nodige dokumente is.
Namibiërs in die buiteland en seevarende burgers word herinner dat hulle op 13 November die geleentheid kry om hul stemme uit te bring. Die verkiesing vir lede van die Nasionale Vergadering en die President vind op 27 en 28 November vanjaar plaas.
|