2.11.2009 RDP sal oorwinning smaak, sê Hamutenya
 Senior lede van die RDP mnre. Anton von Wietersheim (links) en Hidipo Hamutenya groet mekaar. Regs is mnr. Rudolf Kamburona.
DIE president van die RDP het Saterdag voor nagenoeg 1 100 mense op Opuwo ’n waarskuwing aan Swapo en die ander partye in die land gerig dat sy party nie op 21 Maart 2010 as die amptelike opposisieparty ingesweer gaan word nie, maar as die nuwe regerende party in Namibië.
“Ons is in hierdie verkiesings betrokke om ’n verskil te maak. Ondersteuners vanaf die Oranjerivier tot by die Angolese grens, van Omaheke tot in Ohangwena staan bankvas agter ons om hierdie verkiesings te wen,” het mnr. Hidipo Hamutenya sy ondersteuners onder luide applous vertel.
Volgens mnr. Hamutenya het Swapo nie geslaag om ekonomiese groei te bewerkstellig, onderwys te verbeter of ontwikkeling na 20 jaar in die land te vermag nie.
“Ek het verneem dat 40 persent van kinders van skoolgaande ouderdom in die Kunene sonder ’n skool sit, en dat van die 60 persent wat skool gaan, jaarliks druip. Daarom gaan die RDP seker maak dat goeie omstandighede vir skoolkinders geskep word sodra ons die regering oorneem. Daarom moet julle in groot getalle kom stem sodat ons Swapo op ’n vakansie kan stuur,” het hy gesê.
Hy het gesê Swapo het die mense van Kunene ekonomies afgeskeep terwyl die streek vleisproduserend is met bykans 300 000 beeste wat ’n inkomste vir die inwoners kan beteken.
Dit was volgens mnr. Hamutenya die idee van die Regering om weg te doen met die berugte Rooilyn, maar omdat regeringslui ook plase gekoop het, sien hulle nie meer kans om die taak uit te voer nie.
Nou verkoop die mense hul beeste op Oshakati teen ’n veel kleiner prys omdat Opuwo se vleis glo sleg is, het hy gesê.
“Ons belowe vandag dat ons fabrieke en nywerhede hier in Opuwo gaan oprig, dus vra ons julle om bankvas agter ons te staan.
“Ons belowe ook dat ons met die Rooilyn sal wegdoen. So is daar ook baie goed wat in die Kunene, asook in die hele land verander kan word.
“RDP gaan byvoorbeeld jeugontwikkelingsentrums in die Kunene oprig, sentrums soos akademiese jeuginstellings waar die kinders kultureel sowel in sport opgelei word om eendag in die voetspore van Frank Fredericks, Agnes Samaria en Harry Simon te volg.
“As ’n land het ons ontwikkeling nodig en RDP belowe dit. Die ander belangrike verandering wat die RDP gaan bring, is in die erkenning van tradisionele leiers wat nie op ’n deursigtige wyse geskied nie. Ons kan nie dat ’n sekere seksie van die nasie vervreem word nie,” het mnr. Hamutenya gesê.
Mnr. Mike Kavekotora het tydens sy spreekbeurt gewys op hoë skoolverlaatsyfers; die irrelevante onderwyssisteem, swak toegeruste skole, onderbetaalde onderwysers en polisiemanne, sekere mense wat onder die Swapo-regering meer regte het as ander, die wette van die land wat nie konsekwent toegepas word nie, vroue en kinders wie se regte misken word terwyl ’n aanslag op hul lewens gemaak word, en die meerderheid Namibiërs wat volgens hom nie die basiese menslike geriewe soos kos, klere en skuiling het nie.
“Die sogenaamde geen-verdraagsaamheid teen korrupsie waarvan President Hifikepunye Pohamba gepraat het, het op niks uitgeloop nie en gevolglik is N$800 miljoen verlore. Die bedrag is bereken op geld wat voor 2004 verdwyn het en kan vandag selfs meer wees,” het hy gesê.
Volgens hom word sleutelposisies in die regering net vir Swapo-kamerade opsy gesit, van wie sommige glo nie die kwalifikasies daarvoor het nie.
“Van die nasionale versoening wat Swapo belowe het, het ook niks gekom nie,” het mnr. Kavekotora gesê.
Mnr. Rudolf Kamburona het op die welslae van die RDP in so ’n kort tydjie gewys.
Hy het gesê die RDP was betrokke by die toekenning van die tender vir die druk van stembriewe aan ’n onpartydige instansie, die aandrang dat die stembusse nie vervoer gaan word nie en gelyke NBC-lugtyd vir alle partye.
“Ons was in vier kwessies suksesvol en die volgende sukses gaan op 21 Maart 2010 kom,” het hy belowe.
’n Sterk kontingent onder wie mnre. Kandy Nehova, Anton von Wietersheim, Hafeni Nghinamwaami, Maleagi Iilonga en Hans Haraseb was onder die RDP se geselskap op Opuwo.
|