DIE Rally for Democracy and Progress (RDP) is onseker van hoe lank sy lede en ondersteuners dit sal verdra om deur lede van Swapo geïntimideer, aangerand en uitgelok te word.
Herhaalde versoeke om sulke optrede te staak, sê die RDP in ’n verklaring, het op dowe ore geval. “Swapo maak aanspraak daarop dat hulle nie bang is vir ander partye nie, maar steeds gaan hul lafhartige optrede van intimidasie voort.”
Volgens die RDP het Swapo-lede byvoorbeeld op 13 September probeer om sy mobiliseerders uit Okuryangava te verjaag. Tydens die voorval het die raadslid van die Tobias Hainyeko-kiesafdeling, mnr. Zulu Shikongeni, ’n selfoon van ’n RDP-lid gegryp en dit op die grond gegooi.
Op 2 Oktober is ’n RDP-lid, mnr. Sakaria Iyambo, met ’n mes deur ’n vermeende Swapo-lid, ene Jason Johannes, gesteek.
Op 3 Oktober is ’n lid van die RDP op Rosh Pinah se hemp van sy lyf geskeur terwyl hy op pad was na ’n RDP-vergadering.
“Die optrede van geweld en intimidasie is ’n direkte skending van menseregte en die Namibiese Grondwet en is ’n bewys van wat ons herhaaldelik gesê het – dat die speelveld nie gelyk is vir alle politieke partye om deel te neem aan die komende verkiesings nie,” lui die verklaring.
Die RDP wonder of hierdie voorvalle nie die gevolg is van uitlatings deur die voormalige President by ’n Swapo-vergadering op Ongwediva nie, waar hy ’n beroep gedoen het dat sekere mense met hamers geslaan moet word.
“Asof dit nie genoeg is nie, is ons uit die veld geslaan, maar nie verbaas nie oor die uitlatings wat deur Swapo se sekretarisgeneraal, me. Pendukeni Iivula Ithana (foto), gemaak is op ’n vergadering by Omungwelume.” Volgens die RDP is dit duidelik dat nie me. Ithana of Swapo enige respek het vir menseregte en die Namibiese Grondwet nie.
Die party beskou dit as skokkend dat mense aangeval word op grond van hul velkleur. “Swapo moet weet dat sommige wit Namibiërs in die land gebore is; vir baie jare hier woon en hulle verdien om gerespekteer te word soos enige ander persoon,” sê die RDP.
Die RDP het ’n beroep op President Hifikepunye Pohamba gedoen om sy partylede te beheer en te dissiplineer.
’n Waarskuwing is gerig dat haatspraak en uitlokkende optrede verreikende gevolge in die langtermyn kan hê.
Die RDP doen ’n beroep op alle Namibiërs om aan die verkiesings deel te neem en vir die inklusiewe en demokratiese party van hul keuse te stem.