7.02.2012 Publiek moet sê oor kieswet
 Mnr. Sacky Shangala
DIE hervorming van die Kieswet en voorstelle vir aanbevelings vir moontlike wysigings aan die stuk wetgewing is weer op die voorgrond met ’n reeks openbare vergaderings wat Vrydag begin het waar die publiek sy bydraes kan lewer.
Onderwerpe wat tydens die openbare vergadering aandag geniet het, sluit in die aanstelling van kommissarisse van die Verkiesingskommissie, toegang van politieke partye tot die openbare media, die registrasie van kiesers en politieke partye en die aanspreeklikheid van politieke partye rakende die finansiering van die partye uit die staatskas. Ander onderwerpe soos kiesers- en partylyste, kiesersopleiding en die rol van die openbare gemeenskap in die verkiesingsproses is ook tydens die vergadering bespreek.
Die finansiering van politieke partye uit die staatskas het ’n debat tussen die aanwesiges uitgelok. Sommige was dit eens dat politieke partye nie uit die staatskas gefinansier moet word nie.
Me. Carola Engelbrecht wat as segspersoon van Nangof, die Namibiese Nie-regeringsorganisasies se Forum-trust, die sambreelorganisasie vir openbare gemeenskapsorganisasies in Namibië optree, het gesê dat terwyl politieke partye geld uit die staatskas ontvang, hulle vir die gebruik van die geld verantwoordelik gehou moet word.
Sy is van mening dat die huidige stelsel waar die geld volgens partyverteenwoordiging in die parlement verdeel word, verander moet word en dat ’n sekere gedeelte daarvan gelykop tussen die partye in die Nasionale Vergadering en die oorblywende gedeelte proporsioneel verdeel moet word.
Mnr. Arthur Pickering wat in sy persoonlike hoedanigheid die vergadering bygewoon het, het sy ontevredenheid met die stelsel van partyfinansiering uit die staatskas uitgespreek.
Hy is van mening dat politieke partye soos enige ander organisasie van hul eie hulpbronne gebruik moet maak om geld te bekom, siende hulle nie aanspreeklik gehou word oor hoe hulle die staatsgeld benut nie.
Oor die toegang van politieke partye se blootstelling in verkiesingstye tot die openbare media, was dit die publiek se mening dat alle partye gelyke toegang tot lugtyd en mediablootstelling moet hê.
Huidig is dit die geval dat die regerende party die grootste deel van die beskikbare lugtyd kry.
Me. Engelbrecht het genoem dat alle partye ewekansige geleenthede moet hê.
Professor Bill Lindeke het aan die paneel gesê gelyke toegang tot die staatsmedia deur alle politieke partye moet deur wetgewing bepaal word, siende alle partye die mandaat van die kiesers het om gelyke blootstelling in die staatsmedia te kry.
Die reeks openbare vergaderings vind landwyd plaas en loop teen 5 Maart ten einde.
Die kieswethervormingsprojek word deur die Kommissie vir Wetlike Hervorming en Ontwikkeling (LRDC) met die ondersteuning van die Namibiese Instituut vir Demokrasie (NID) bedryf.
Die voorsitter van die LRDC, mnr. Sacky Shangala, fasiliteer die vergaderings. Kragtens die Wet op Regshervorming en Ontwikkeling van 1991 word wyd met belanghebbendes, insluitende opposisiepartye en die publiek, beraadslaag om die beste moontlike bydraes te kry. Hieruit moet ’n konsepverslag met aanbevelings vir hervorming van die Kieswet opgestel word. Dit sal ook die grondslag vir die opstel van ’n nuwe kieswet vorm.
Die openbare vergaderings begin om 09:00 en duur tot 16:00. Die verloop van verrigtinge is onderhewig aan reëls en prosedures wat deur die Kommissie op Regshervorming en Ontwikkeling bepaal word.
Na afloop van die reeks vergaderings sal ’n verslag, gepaardgaande met ’n konsepverslag met aanbevelings vir hervorming van die Kieswet aan die Minister van Justisie oorhandig word. Die proses sal waarskynlik teen September afgehandel wees.
Vir meer inligting kan met die sekretaris, me. Tousy Namiseb, by 081 129 6343 of tnamiseb@moj.gov.na in verbinding getree word.
|