
Mnr. Joseph Iita
NAMIBIËRS staar ondanks ’n onderverhaling in die plaaslike mark nie vandeesmaand weer ’n styging in die pryse van petrol en diesel in die gesig nie.
Die Ministerie van Myne en Energie het bekendgemaak dat die brandstofprys in Maart in weerwil van die internasionale markkragte onveranderd sal bly. Dit volg danksy ’n besluit deur die Ministerie om die tekort van deesmaand te subsideer en dit nie na die verbruiker af te wentel nie.
Die kleinhandelprys vir 93-oktaan petrol op Walvisbaai bly gevolglik N$7,11 per liter, terwyl 95-oktaan petrol op Walvisbaai steeds teen N$7,20 per liter sal verhandel. Die groothandelprys vir dieselprys bly onveranderd op N$7,14 per liter.
Mnr. Joseph Iita, permanente sekretaris van Myne en Energie, sê in ’n verklaring die wêreld word op die oomblik gekonfonteer met ’n hoë vraag/klein aanbod-situasie in die oliemark. Die ruolieprys word huidig beïnvloed deur die verwagtinge van voortgesette ekonomiese groei en ’n hoër vraag na energie in China.
Terselfdertyd bestaan die vrees dat die lewering van olie deur die geopolitiek van streke met ’n lae surplusvermoë onderbreek kan word. Hy waarsku verbruikers dus dat die ruolieprys kwesbaar gaan bly.
Deur die brandstofprys gereeld te hersien, word voorsorg getref dat die ekonomie en koopkrag van verbruikers nie negatief geraak word wanneer die ruolieprys skielik skerp styg nie.