DIE batebestuursarm van die Prowealth groep van maatskappye wat “hopeloos bankrot” is ondanks die reusebedrae geld wat weduwees, pensioenarisse en ander beleggers deur dié maatskappy belê het, is Vrydag in die Hoërhof finaal gelikwideer.
Mnr. Alwyn van Straten van Entrust Consortium Investments is ingevolge die hofbevel deur Regter Sylvester Mainga as die likwidateur aangestel. Terwyl dit uit stukke voor die hof blyk dat die gelikwideerde maatskappy se skuldlas sy bates met sowat N$19 miljoen oorskry, wag sowat vyftig woedende beleggers nou in spanning om te hoor wat van die nagenoeg N$100 miljoen geword het wat hulle deur wyle mnr. Riaan Potgieter (foto) in Prowealth belê het.
Die batebestuursafdeling van dié groep van maatskappy was direk onder sy beheer. Mnr. Potgieter, die stigter en eienaar van Prowealth, het vroeg in Desember verlede jaar by sy luukse meenthuis in Klein-Windhoek selfmoord gepleeg. Hy sou op 6 Januarie vanjaar 40 jaar oud geword het.
Me. Soleil Prolius, die eksekuteur van mnr. Potgieter se boedel, het die Hoërhof vroeër in ’n dringende aansoek namens Prowealth Group Holdings gevra dat Prowealth Asset Managers onder die geregtelike bestuur van ’n likwidateur geplaas word. Dié bevel is Vrydag deur Regter Mainga bekragtig. Me. Prolius sê in die hofstukke die batebestuursarm van Prowealth is “hopeloos bankrot” en dat die maatskappy se laste die bates met meer as N$19 miljoen oorskry.
Dit blyk uit Prowealth Asset Managers se finansiële state vir die jaar geëindig op 29 Februarie 2008 dat die laste in daardie stadium reeds N$16,5 miljoen beloop het. Hiervan skuld die maatskappy N$16,295 miljoen aan die moedermaatskappy.
Volgens me. Prolius het die maatskappy se finansiële situasie in die maande voor mnr. Potgieter se selfmoord selfs verder versleg. Sy sê in haar eedsverklaring dat dit in die beste belang van die skuldeisers is as ’n likwidateur beheer neem van die sake van die bankrot batebestuursmaatskappy en die vermiste beleggings probeer opspoor.
Groot bedrae geld word vermis en sy kon as eksekuteur nie vasstel wat daarvan geword het nie, blyk dit. Prowealth Asset Managers doen sedert mnr. Potgieter se dood nie meer sake nie en die werknemers is intussen ook almal afgedank.