23.09.2009 Protokol word verkiesingskos
DIE debat oor die bekragtiging van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se protokol op wetenskap, tegnologie en skeppendheid, het die week in die Nasionale Vergadering vroeg-vroeg reeds ontaard in ’n verkiesingsveldtog waaruit verskillende politieke partye munt probeer slaan het.
Ná die motivering van die protokol deur die Adjunkminister van Onderwys, dr. Becky Njoze-Ojo, wou mnr. Arnold Tjihuiko van Nudo weet of die protokol dieselfde pad gaan loop as al die ander protokolle wat Namibië in die verlede bekragtig het. Hy wou weet of dit uiteindelik net geïgnoreer gaan word. As voorbeeld het hy die SADC-protokol op verkiesings genoem waarvan Namibië ’n ondertekenaar is, maar steeds nie die riglyne nakom dat verkiesings op een dag gehou moet word nie.
Hierop het die Speaker hom daaraan herinner dat hy hom tot die protokol onder bespreking moet beperk.
Hierop het mnr. Tjihuiko gesê die standaard van veral wetenskaponderrig in landelike gebiede laat veel te wense oor.
Op sy beurt het mnr. McHenry Venaani van die DTA ’n gebrek aan streeksamewerking en ondersteuning wat plaaslike entrepreneurs betref, betreur. Hy het die voorbeeld genoem van die vervaardiging van die Uri-viertrekvoertuig asook baanbrekerswerk wat op die gebied van sonkrag plaaslik gedoen is. Dié tegnologie is nou verlore vir Namibië omdat die nodige ondersteuning nie uit die SADC-streek daarvoor ontvang is nie.
Leerlinge wat in veral wiskunde en wetenskap swak presteer, kan baie baat vind by goeie onderwysers van elders in die SADC-streek terwyl die kapasiteit van plaaslike onderwysers verbeter word.
Die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, het onder- en swak voeding as een van die bydraende redes vir die swak prestasie van leerlinge beskryf. Hy sê tot soveel as sewe persent van alle kinders tussen die ouderdom van een jaar en vyf jaar oud ly aan wanvoeding, terwyl Namibië ryklik geseën is met beesvleis, vis en mahango en geen nodigheid bestaan dat enige kind moet honger ly nie.
Dr. Albert Kawana sê ontwikkelde lande het Afrika se kundigheid en skeppinge gesteel. Selfs die opgeleide Afrikane word gesteel en woon en werk in Europa en Noord-Amerika. Met ander woorde, Afrika subsidieer eintlik ontwikkeling in Europa en Noord-Amerika. Hy meen meer moet gedoen word om Afrikane in die diaspora terug te lok na Afrika met verbeterde toestande in plaaslike instansies van hoër opvoeding.
Op een tydstip in die debat het ’n vraag uit die Swapo-banke opperhoof Kuaima Riruako van Nudo op die oorlogspad met die DTA geplaas. Gevra hoekom hy uit die DTA weg is as hy so ’n voorstander van eenheid is, het mnr. Riruako geantwoord dat die strukture van die DTA so swak was dat hy geen ander keuse gehad het as om te bedank nie.
Mnr. Venaani het hierop uitgewys dat dieselfde kwessies wat die opperhoof na aan die hart lê, destyds toe hy nog in die DTA was ook na aan sy hart was en dat hy alle moontlike ondersteuning van die party gekry het. Dit is dus verkeerd om te wil voorgee dat hy nooit ondersteuning geniet het nie en alles op sy eie gedoen het.
Mnr. Tjihuiko van Nudo wou van mnr. Riruako weet of die rede hoekom mnr. Riruako nie tot die DTAleierskap herkies is nie, gesoek kan word in die feit dat hy ’n ontmoeting met die voormalige staatshoof, mnr. Sam Nujoma, gehad het. Dit is deur die opperhoof bevestig, maar mnr. Venaani het hom uitgedaag en daarop gewys dat hy verskeie kere van tevore ook ontmoetinge met mnr. Nujoma gehad het en dat die DTA toe nie teen hom opgetree het nie.
In haar motivering het dr. Ndjoze- Ojo gesê die oorhoofse doel van die protokol is om samewerking te verbeter en ontwikkeling, oordrag en bemeestering van wetenskap, tegnologie en skeppende aktiwiteite te bevorder. Dit moet ook programme ondersteun wat volhoubare sosioëkonomiese groei en die verligting van armoede teweeg bring.
Die protokol is ook daarop gemik om die verbintenis te versterk van nasionale regerings om teen 2010 ten minste een persent van die bruto binnelandse produk vir navorsing en ontwikkeling beskikbaar te stel.
|