8.08.2008
© Vicky Lindner
Omstanders het gister geskok toegekyk toe lede van die Namibiese polisie by ‘n ontbyt vir liefdadigheid by die Windhoek Buitekluboord ingestorm en die besturende direkteur van One Africa TV, mnr. Paul van Schalkwyk, en die operasionele direkteur van One Africa TV, mnr. Waldheim Shiluwa, op klagte van diefstal in hegtenis geneem het. Mnr. Shiluwa se moeder, die Eerste Dame, me. Penexupifo Pohamba, was die gasvrou by die geleentheid om die OEWONA rivieruitdaging vir liefdadigheid, ‘n rubberbootwedvaart wat vroeg in Oktober sal plaasvind, bekend te stel. Tot almal se verligting en vermaak het dit aan die lig gekom dat die inhegtenisnemings ‘n poets was en bloot gedoen is om die oggend se verrigtinge op ‘n hoë noot te laat begin.