19.03.2010
President se visie in sy eie woorde
PRESIDENT Hifikepunye Pohamba het in ’n openhartige onderhoud met Republikein vandeesweek teruggekyk op 20 jaar van onafhanklikheid en sy persoonlike belewenis hiervan met Estelle de Bruyn van Republikein gedeel. Hy het ook sy drome en wense vir die land bespreek en gepraat oor die uitdagings wat voorlê. Hy het in die onderhoud ook ’n spesiale boodskap vir die jeug van die land gehad.

President Hifikepunye Pohamba in gesprek met Republikein se Estelle de Bruyn.
“EK het die land baie jare gelede verlaat en in ballingskap gewoon en saam met mede-Namibiërs vir die vryheid van die land geveg. My naam is verbind met die bevrydingstryd en nou ná onafhanklikwording is dit verbind met ontwikkeling en die herkonstruksie van die land.
“Ek is vandag ’n gelukkige man. Dit is omdat die mense hul vertroue in die Swapo-party gestel het wat ek, as een van die stigterslede, help ontwikkel en groei het.
“Ek het selfvertroue omdat die mense keer op keer Swapo verkies het om die land te administreer en te regeer en ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling te bring.
“Die land het ook sy vertroue in my bewys deur my in 2004 as Staatshoof en hoof van die Regering te verkies en my toevertrou het met die sosioëkonomiese ontwikkeling van die land.
“Ek wil graag al die mense van die land bedank wat die afgelope vyf jaar wat ek aan bewind was, my ondersteun het. Die land is vreedsaam en dit is nie iets wat vyf jaar gelede begin het nie. Sedert ons 20 jaar gelede onafhanklik geword het, handhaaf ons vrede en dit het voortgegaan toe ek die leisels in 2005 oorgeneem het.
Uitdagings
“Toe ons in 1990 aan bewind gekom het, was die land verdeel in etniese en stamgebonde groeperings. Ons moes hard werk om eerstens die mense saam te bring en te verenig sodat hulle kon saamwerk.
“Ek wil die burgers van die land bedank vir die vrede wat hulle in stand gehou het sodat ons heelwat dinge kon doen. Selfs buitelanders wat hierheen wou kom om hul geld te belê, kon dit doen sonder vrees. So gaan ons voort om die land verder te ontwikkel. Deur beleggings kry mense werkgeleenthede en baie huishoudings, ongelukkig nie almal nie, is vandag in staat om brood op die tafel te plaas omdat hulle werk het. Dit is te danke aan die vrede en stabiliteit wat ons in die land geniet."
Harde werk lê voor
“Die Regering het ’n visie, Visie 2030, waaraan ons werk. Die werk wat ons as Regering doen, vind deur nasionale beplanning plaas en elke vyf jaar het ons ’n nuwe nasionale ontwikkelingsplan. Ons is nou reeds by die derde ontwikkelingsplan.
“Teen 2030 moet Namibië ’n ontwikkelde land wees waar die burgers in staat is om vir hulself te sorg en ons nie langer hulp van andere vereis nie. Ons skole moet wetenskaplikes en uitvinders produseer.”
Die President se persoonlike wenslysie
“Ten eerste moet ons voortgaan om, soos in die verlede, vrede te handhaaf. Ons is oortuig daarvan dat waar vrede heers, baie dinge vermag kan word.
“Ek wil graag hê dat daar genoeg kos moet wees en dat mense in staat moet wees om hulself te voed. Ek wil graag ’n verbetering en uitbreiding van ons infrastruktuur sien, veral paaie in landelike gebiede.
“Wanneer ons oor ontwikkeling praat, praat ons daarvan dat ontwikkeling na die landelike gebiede geneem moet word. Dan moet daar reeds paaie wees sodat ons die nodige dienste aan die mense daar kan lewer.
“Ek wil ’n verbetering in ons onderwys sien. Ek is nie gelukkig om aan die einde van die jaar te sien hoeveel skole se leerlinge nie goed gevaar het nie.
“Ons moet meer klaskamers bou, maar ook behuising vir onderwysers. Indien daar net skole en nie huisvesting vir onderwysers is nie, kan ons nie verwag om gehalte onderwysers na hierdie gebiede te lok nie.
“Dieselfde geld die gesondheidsektor. Wat MIV/vigs betref, word pogings aangewend deur die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste om medikasie aan te koop om die lewens van ons mense te verleng. Dit is ’n duur oefening.
“Ons sê egter, kom ons bestee die geld sodat ons medikasie kan koop, ook vir ander siektes soos malaria en masels. ’n Mens kan nie van ontwikkeling praat wanneer mense siek is nie."
Boodskap aan die Namibiese nasie
“Ek wil hê ons mense moet harder werk. Op landbougebied is dit belangrik dat ons voedsel produseer. Ek besef die klimaat is nie altyd gunstig om voedsel vir ons mense te produseer nie. Tog moet ons in gedagte hou dat ’n nasie wat nie voedsel produseer nie en op ander staatmaak vir voedsel, homself nie ‘onafhanklik’ kan noem nie. Laat ons liewer van olie en brandstof van ander afhanklik wees, wat ons nie kan produseer nie, maar nie van kos nie.
“Ons kan kos produseer. Sekere dele van die land is geseën, soos Kavango en Caprivi. Ons moet landbouprojekte daar bedryf deur byvoorbeeld 20 gebiede bestaande uit 10 000 hektaar elk vir die verbouing van voedsel opsy te sit. In hierdie twee streke is voldoende water wat vir besproeiing benut kan word en wat beslis in staat sal wees om die hele land met sy klein bevolking te voed.
“Ons het goeie projekte by Sitemu en Ndonga Linena, waar voedsel geproduseer word. Ons moet hierdie gebiede uitbrei sodat ons meer kan produseer.
“Ja, natuurlik word ons geraak deur die globale finansiële krisis. Selfs sekere aspekte van die Groenskema word hierdeur geraak. As ons byvoorbeeld ’n trekker wil koop wat in Japan of elders vervaardig is, is dit nou baie duur om dit hier te kry. Ons voer olie en brandstof in. Die masjinerie wat ons in die landbou gebruik om voedsel te produseer, kort brandstof. Ons word dus geraak in baie van die dinge wat ons graag wil doen.
“Dit is nie net in Kavango en Caprivi waar ons voedsel kan produseer nie, maar ook in Karas, waar wonderlike werk in die landbou gedoen word met onder meer tafeldruiwe. Dis kontant oeste waarmee ons geld in die buiteland verdien. Ons moet dit uitbrei sodat ons meer geld kan verdien.
“My wens is dat die mense van die land werklik betrokke raak by produktiewe werk en sodoende werkgeleenthede vir ons mense kan skep.
“Toe ek onlangs by Kalimbeza was waar suiker geproduseer is, het ek na die groot gebied onder besproeiing gekyk en gesê dit kan ook vir rysproduksie benut word.”
Boodskap vir die jeug
“My boodskap vir die jeug is dat hulle harder moet studeer omdat ontwikkeling net deur mense wat vaardighede het, gebring kan word. Werkskepping is ook in die guns van mense wat oor vaardighede beskik.
“Die Regering doen wat hy kan om opleiding te verskaf, nie net akademies nie, maar ook in ander velde soos oesproduksie en hoe om die grond te bewerk en na lewendehawe om te sien.
“Jong mense moet betrokke raak by landbou-aktiwiteite sodat dit kan gedy en ons nie meer jongmense hoef te sien wat op straathoeke staan en werk soek nie. As Regering doen ons wat ons kan.
“Die volgende minister belas met die Jeug sal alles in sy of haar vermoë doen om bystand te verleen aan jongmense wat skole verlaat. Ons moet hulle ook met beurse bystaan,” het Pres. Pohamba gesê.