
Premier Nahas Angula
DIE Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, het gister in die Nasionale Vergadering (NV) toegetree tot die verkiesingsdebat en ’n beroep op opposisiepartye gedoen om hul hofgeding in die Hooggeregshof te laat vaar.
In ’n buitengewone toespraak in die tyd wat daagliks in die NV vir ministeriële verklarings opsy gesit word, het die Premier gesê vanweë die spesifieke aard van verkiesings, is sommige suksesvol en ander nie. Om die rede moet almal wat hulself as demokrate beskou, hierdie beginsel onderskryf. Slegte verloorders is nie bereid is om ’n nederlaag te aanvaar nie, al was die verkiesingsproses deursigtig en demokraties
“Ongelukkig word sodanige mense op die Afrika-vasteland aangetref. Verkiesings is net vry, regverdig, demokraties en deursigtig as hulle as die wenners verklaar word.
“Hierdie Afrika-siekte moet aandag kry in belang van vrede en stabiliteit en vir sosioëkonomiese ontwikkeling op ons vasteland,” het Premier Angula gesê.
Hy het benadruk wat die Regering reeds in Januarie vanjaar gesê het dat alle patriotiese Namibiërs hul posisie in die belang van vrede en stabiliteit in die land moet heroorweeg. Die Hoërhof het sy uitspraak gelewer en die nasie wag nou om te sien waarheen die land van hieraf gaan. Verkiesings, veral nasionale verkiesings, kan soms verdelend wees en families, rassegroepe en vriende van mekaar skei.
“Vir ’n volwasse demokrasie soos ons s’n moet alle patriotiese Namibiërs ondanks partypolitieke affiliasie, die belange van Namibië eerste stel. Ons moet dit aanvaar, agter ons plaas en as ’n nasie vorentoe beweeg.
“As ’n nasie moet ons stilstaan en nadink oor die prestasies wat ons dusver bereik het en die geleenthede wat voorlê. Ons moet nadink oor die uitdagings wat die nasie in die gesig staar en hoe dit hanteer kan word en ’n nuwe pad vorentoe vir ’n toekoms vol hoop bepaal kan word. Namibië se na-onafhanklikheidsgeskiedenis het die konsolidasie van vrede, vooruitgang en stabiliteit gesien.
“In die besonder het die versiende beleid van nasionale versoening en die verbintenis van die Namibiese mense tot sosioëkonomiese ontwikkeling en nasiebou die fondament vir ’n beter toekoms vir ons mense gelê.
“Vryheid en onafhanklikheid is nie vir ons gegee op ’n silwer skinkbord nie. Dit is gekoop met die opofferinge, dapperheid en heldhaftigheid van die seuns en dogters van ons grond wat sterk gestaan het om teen kolonialisme, apartheid en onderdrukking te veg. Ons skuld ons helde en heldinne ewige dank vir hul lewens wat hulle opgeoffer het en hul bloed wat gevloei het sodat ons, die mense van Namibië, in vrede en vryheid kan lewe,” het Premier Angula gesê.
Hy sê Namibië geniet vrede en het ook vrede met die buurstate. Mense is vry om hul volle potensiaal na te streef. Sterk instansies vir staatsbestuur is gebou waardeur beleid oor nasionale ontwikkeling geïmplementeer kan word.
“Ons moet voortgaan op hierdie pad omdat die teendeel verwoestend vir die nasie kan wees,” het hy gewaarsku.
“In demokrasie is daar geen verloorder nie. Ons is almal wenners. Daarom vra ek al die gegriefdes om die saak met rus te laat sodat ons kan vorentoe gaan as ’n eenheidsnasie en met welslae die ware vyande, naamlik werkloosheid en onderontwikkeling, aandurf,” het Premier Angula gesê.
Me. Elma Dienda van die Congress of Democrats (CoD) wou van die Eerste Minister weet of hy, aangesien die saak steeds in die howe is, eers met die regsgeleerdes van die opposisiepartye beraadslaag het voor hy die saak in die NV bespreek het.
Sy sê opposisiepartye het ook die reg om hul saak te beskerm in die howe. Premier Angula het hierop geantwoord dat hy die verklaring gemaak het namens die stilswyende meerderheid wat wil hê dat vrede moet heers.