16.03.2010 Portugal verstewig bande
DIE versterking van bestaande bilaterale betrekkinge tussen Portugal en Namibië is die resultaat van die Portugese minister van buitelandse sake, mnr. Luis Amado, se afgelope besoek aan Namibië. Tydens die besoek het hy onder meer samesprekings gevoer met sy Namibiese eweknie, Min. Marco Hausiku. Albei ministers het hul regerings se bereidwilligheid en verbintenis tot versterkte bande beklemtoon en gesê ekonomiese en politieke samewerking sal verder uitgebrei word.
Min. Amado het daarop gewys dat daar heelwat Portugese sakelui in Angola is wat dit oorweeg om in Namibië te belê en dat hy hulle sou aanmoedig om in mynwese, handel, visserye, opvoeding en toerisme in ’n vreedsame en stabiele Namibië te belê. Die minister het ook op die belangrikheid van Portugees as een van die amptelike tale vir kommunikasie in die Suider- Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) gewys, en homself verbind tot die versterking van Portugees as taal in Namibië en in die streek.
Op sy beurt het Min. Hausiku, namens die Namibiese regering, sy diepste meegevoel met die regering en mense van Portugal uitgespreek oor die onlangse vloed wat die eiland Madeira getref het waar lewensverlies en verlies aan eiendom voorgekom het.
Min. Amado het ook ’n welwillendheidsbesoek aan die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, gebring. Hy was vergesel van die direkteur van Afrika-sake in die Portugese ministerie van buitelandse sake asook deur Portugal se ambassadeur in Pretoria. Hy het ook lede van die Portugese gemeenskap in Namibië ontmoet wat sy besluit verwelkom het om ’n saakgelastigde in die Portugese verteenwoordigende kantoor in Windhoek aan te stel.
Portugal het in 2003 besluit om sy ambassade in Namibië te sluit. Die minister het ook bekendgemaak dat ’n sterk Portugese sake-afvaardiging Namibië in September vanjaar sal besoek om Portugese beleggings in die land te bevorder. Die verteenwoordiger van die Portugese gemeenskap in Namibië, mnr. Manuel Coelho, het die minister se besoek aan Namibië verwelkom.
“Ons moet onsself gelukwens met ons bydrae tot die ekonomiese ontwikkeling en die politieke stabiliteit in die land en met die Portugese regering se verbintenis om Namibië verder met sy ontwikkeling by te staan. Dit bied aan ons ’n geleentheid om ’n groter rol in die ontwikkeling van die land te speel,” het mnr. Coelho gesê.
Hy het ook die minister se besluit om ’n voltydse diplomaat in Namibië aan te stel om verdere ekonomiese geleenthede te ondersoek en Portugal se belang in Namibië te versterk, verwelkom. Hy sê dit is hoog tyd dat dit gebeur en ’n stap in die regte rigting.
Mnr. Coelho, wat ook ’n raadgewer vir die Portugese regering is, sal eersdaags na Portugal reis om sakelui aldaar aan te moedig om in Namibië te belê, ter voorbereiding van die Portugese sakeafvaardiging se besoek aan Namibië in September.
|