24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

8.09.2010

Politiek kry nuwe koers

RDP- en RP-eenwording

© Stefan Fischer
Die presidente van die RDP en RP, mnre. Hidipo Hamutenya en Henk Mudge, het gister ‘n memorandum van verstandhouding onderteken om die twee partye te verenig.

’n NUWE era het vir opposisiepartye in besonder en politiek in die breë in Namibië aangebreek met die ondertekening van ’n memorandum van verstandhouding wat die weg tot eenwording vir die Rally for Democracy and Progress (RDP) en die Republikeinse Party (RP) baan.

Die presidente van die twee partye, mnre. Hidipo Hamutenya en Henk Mudge, het die aankondiging gister in Windhoek gemaak. Dit volg na byna drie jaar se gesprekke tussen die leierskap van die twee partye en die besef dat die waardes wat die partye ondersteun en nastreef, dieselfde is.

Volgens die visepresident van die RDP, mnr. Steve Bezuidenhout, sal die unifikasieproses tyd neem. Die RP sal uiteindelik uitfaseer volgens die bepalings van die party se grondwet. Lede van die RP sal aangemoedig word om by die RDP aan te sluit en volle lede van die party word.

Die eenwording sal so geskieddat dit nie die posisies van dienende raadslede van die RP op plaaslike owerheidsvlak raak nie.

Die werksaamhede van die Regering, met die RP wat een en die RDP wat agt verteenwoordigers in die Nasionale Vergadering sal hê wanneer hul lede volgende week ingesweer word, moet ook nie ontwrig word nie. Tog het mnr. Mudge aangedui dat die proses gou sal gaan.

“Ons speel nie speletjies nie. Ek is bereid om my setel in die NV te ontruim om te verseker dat die proses vorentoe gaan, as dit nodig sou wees. Dit behoort ’n aanduiding te wees van hoe ernstig ons oor die saak is,” het hy gesê.

Die partye se samesmelting beteken dat hulle in November saam aan die verkiesings vir lede van die streekrade en plaaslike owerhede sal deelneem, dat die partye gesamentlike koukusvergaderings by die NV sal hou, ’n sekretariaat sal deel en dat die RDP uiteindelik al die bates en laste van die RP sal oorneem. Mnr. Mudge het gesê hy vertrou mnr. Hamutenya en kan aan geen beter party as die RDP dink om as bondgenoot te hê in die stryd om Swapo te oorwin nie.

Hy wys ook daarop dat die vereniging van die RP en die RDP nie ’n eksklusiewe ooreenkoms tussen die twee partye is nie en dat die deur oop staan vir ander opposisiepartye om aan te sluit.

Hy sê die RDP in sy nuwe gedaante is die party vir wit Namibiërs wat sedert onafhanklikwording soos tweedeklas burgers voel; vir inwoners van informele nedersettings wat 20 jaar na onafhanklikwording steeds nie lopende water of elektrisiteit het nie; mense wat nie daarin kan slaag om ’n werk in die koersstaatsdiens te kry omdat hulle nie die regte vanne of etniese oorsprong het nie; sakelui wat blootgestel word aan onregverdige mededinging van veral Chinese ondernemings; diegene wat aan die bevrydingstryd deelgeneem het, maar moes sien hoe myn- en viskonsessies aan die families en vriende van hoë politici gaan; gekwalifiseerde Namibiërs wat nie werk kry terwyl poste in ondernemings in staatsbesit na onbevoegde ondersteuners van die regerende party gaan en vir diegene wie se geliefdes vermoor en verkrag word en hulpeloos teen die vlaag van misdaad staan.

Mnr. Hamutenya het in sy rede gesê Swapo sing die afgelope 20 jaar die deuntjie van nasionale versoening, maar dat niks daarvan gematerialiseer het nie. Hy sê die tyd het aangebreek om mense in die land te laat verenig en saam te bring sodat hulle mekaar in die beste belang van die land kan aanvul.

Hy vind dit onaanvaarbaar dat 400 000 mense in die land nie kos op hul tafels het nie, maar dat die produktiewe boerderysektor wat die kundigheid van voedselproduksie het, nie betrek word om oplossings te vind nie.

“Mense met vaardighede word uitgesluit van die stelsel, nie deur die wet nie, maar deur beleid en programme wat reaksionêr is en nie op die toekoms gerig is nie. Wat Swapo die afgelope 20 jaar gedoen het, was nie in belang van die mense nie. Ons grootste bate, naamlik ons menslike hulpbronne, is nie in diens van die land gebruik nie.

“Dit is te verstane dat veral wit Namibiërs uitgesluit voel, want die een dag word hul ‘medelandsburgers’ genoem en die volgende dag word hulle as ‘rassiste en kolonialiste’ uitgekryt. Ons wil sien dat al ons burgers saam in die landbou, fabrieke, die visbedryf en vele ander sektore werk sonder dat enige groep voel daar word teen hom gediskrimineer of hy word van geleenthede ontneem,” het mnr. Hamutenya gesê.