23.08.2010 Nujoma: Vat die grond
 Mnr. Sam Nujoma (middel, met serp) spit saam met die vroue wat verantwoordelik is vir die Dr. Sam Nujoma Tuin van Hoop wat Saterdag in Otjomuise in gebruik geneem is. Derde van regs kyk me. Margareth Mensah-Williams, ondervoorsitter van die Nasionale Raad, toe.
TERWYL die Ministerie van Grond en Hervorming werk aan ’n nuwe stelsel om grond vir hervestiging te bekom, het oudpresident Sam Nujoma Saterdag die ondervoorsitter van die Nasionale Raad en raadslid van die Khomasdal-Noord kiesafdeling, me. Margareth Mensah-Williams, opdrag gegee om so gou moontlik wetgewing van krag te maak sodat plase teruggevat kan word wat in die vroeë 1900’s in blanke boere se besit gekom het.
Hy het ook voorgestel dat ontsoute seewater gebruik word om die woestyn vrugbaar te maak sodat kos daar aangeplant kan word wat na ander lande uitgevoer kan word.
Mnr. Nujoma se versoek volg op die Zimbabwiese president, mnr. Robert Mugabe, se toespraak by die afsluiting van die spitsberaad van staatsleiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) verlede week in Windhoek. Mnr. Mugabe het opnuut sy land se grondgryp-onteieningsplan vir landbougrond verdedig en gesę hy en sy regering sal nie vinnig van hierdie wyse van grondhervorming afsien nie.
Oudpresident Nujoma het opgetree tydens die inhuldiging van die Khomasdal-Noord kiesafdeling se tuinbouprojek by die Otjomuise Projekskool wat ook na hom vernoem is. Die tuin wat deur vroue van die woonbuurt met behulp van die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou tot stand gekom het om die kinders en ander gemeenskapslede van kos te help voorsien, is Saterdag as die Dr. Sam Nujoma Tuin van Hoop herdoop.
Nadat mnr. Nujoma die tuin geďnspekteer en net voordat hy self die graaf opgetel het om akkers vir die verbouing van spinasie voor te berei, het hy me. Mensah-Williams gevra om wetgewing op te stel sodat die grond van blankes wat die grondhervormingsproses en die beleid van versoening saboteer, in beslag geneem kan word.
Hy het ook gesę Namibië kan nie meer van die invoer van voedsel afhanklik wees nie, maar moet ’n netto-uitvoerder word.
“Ek het as herderseun grootgeword voor ek in 1946 in Walvisbaai begin werk het. Toe al was Namibië ’n uitvoerder van beesvleis na Brittanje,” het mnr. Nujoma gesę.
Hy het verwys na die swaar ekonomiese toestande wat in daardie tyd weens die pas afgelope Tweede Węreldoorlog węreldwyd geheers het.
“Die Boere was toe in bewind. Die arm Boere was toe nie geskoold nie en hulle het toe plase gekry. Wittes van Kenia, Tanzanië, Noord-Rhodesië, Suid-Rhodesië en Namibiese boere het toe plase verniet gekry,” het hy gesę.
“Ons moet nou die plase van hierdie wat dit gekry het, terugvat. Die wet moet hul reg op hierdie plase nietig verklaar. Ons moet dit wet maak dat die aktes op die grond wat in hul besit was, terugwerkend vanaf 1920 nietig verklaar word.”
Mnr. Nujoma het sy ontevredenheid te kenne gegee dat Namibië nie selfonderhoudend is nie. “Ons kan oorleef sonder om kos in te voer. Ons moet eerder uitvoerders word. Ekonomies en wetenskaplik het ons die kapasiteit om seewater te ontsout. Ons kan nog so ’n aanleg oprig en die woestyn van die Oranjerivier na die Kunene groen maak en kos produseer wat uitgevoer kan word.”
Mnr. Nujoma het gesę dat hy President Hifikepunye Pohamba gaan versoek om alle invoere van voedsel na die land te staak. “Die mense moet net plaaslik vervaardigde kos eet.”
Hy het die jeug gemaan om die bepalers van hul toekoms te word. “Julle moet eendag die voorbeeldige leiers van die land wees. Onthou, die Regering help diegene wat hulself help,” het hy gesę.
|