Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

5.02.2010

Polisieman getuig oor kokaïenvonds

© Elzeth Harmse
Josué Manuel Antonio en Daniel Joao Paulo.

MEER as nege maande nadat twee middeljarige Angolese mans in Desember 2007 by ’n padblokkade buite Keetmanshoop met die grootste kokaïenvonds nóg in Namibië betrap en in hegtenis geneem is, het ’n wenk die polisie na nóg meer as 9 kg versteekte kokaïen in die noodwiel van hul voertuig gelei.

Daniel Joao Paulo (42) en Josué Manuel Antonio (44) het Dinsdag in die Hoërhof voor Regter Collins Parker onskuldig gepleit op elk van die drie klagte waarop beide teregstaan.

’n Lid van die dwelmeenheid op Keetmanshoop, sers. Frans van Wyk, het in die hof getuig dat hy by die padblokkade was toe die twee Angolese in die vroeë oggendure op 20 Desember 2007 buite Keetmanshoop met die kokaïen betrap is.

Hy het getuig dat hy hulle gevra het waarheen hulle onderweg is. Paulo het blykbaar gesê hulle gaan kuier vir ’n broer op Upington. Sers. Van Wyk sê Antonio het die Land Cruiser bestuur en dat Paulo al die praatwerk gedoen het.

Die mans is gevra om die voertuig langs die pad te parkeer sodat dit deursoek kan word. Van Wyk, wat 22 jaar ondervinding in die polisie se narkotikaeenheid het, het getuig dat hy die kenmerkende reuk van kokaïen aan die voertuig erken het.

Tydens die ondersoek is 62 pakkies kokaïen van altesame 30,1 kg in ’n versteekte houer in die voertuig gevind. Paulo en Antonio is gevolglik in hegtenis geneem.

Meer as nege maande later, ná ’n wenk dat moontlik nog kokaïen in die voertuig versteek is, is die voertuig weer deursoek en is nog 9,25 kg kokaïen in die Land Cruiser se noodwiel gevind.

Die hoofklag teen die twee is die onwettige handel in 39,35 kg kokaïen met ’n straatwaarde van N$20,125 miljoen.

Die alternatiewe klag is dat hulle tussen 20 Desember 2007 en 30 September 2008 op Keetmanshoop in besit van hierdie dwelms was.

Die tweede en derde klagte is onderskeidelik die onwettige handeldryf met en besit van 30,1 kg kokaïen met ’n straatwaarde van N$15,5 miljoen op Keetmanshoop op 20 Desember 2007 asook 9,25 kg kokaïen met ’n straatwaarde van N$4,625 miljoen op Keetmanshoop op 30 September 2008.

Adjunk-aanklaer-generaal Johnny Truter tree namens die staat op en mnr. Percy McNally is Paulo en Antonio se regsverteenwoordiger. Beide beskuldigdes is sedert hul inhegtenisname in aanhouding. Die verhoor is tot vandag geskeduleer.