AL die politieke partye wat aan die aanloop tot die November-verkiesing deelneem, is vertroud met die gedragskode wat deur ondersteuners gevolg moet word. Selfs kleinere voorvalle tussen ondersteuners van verskillende partye sal deur die polisie opgevolg word om te verhoed dat dit in groter onsmaaklikhede ontaard.
Die waarskuwing is op Walvisbaai deur die bevelvoerder van die polisie in die Erongo-streek, komm. Festus Shilongo, gerig toe hy verteenwoordigers van die verskillende partye op Walvisbaai te woord gestaan het.
Volgens hom was tot dusver net kleinere voorvalle tussen ondersteuners van die verskillende partye. Komm. Shilongo het gesê juis die kleiner voorvalle tot dusver het aanleiding tot die gesprek by die polisiehoofkantoor op Walvisbaai gegee. Hy het gesê die polisie aanvaar ’n rol as vredemaker in die verkiesingsveldtog.
Al die politieke partye was na die gesprek genooi, maar net vier partye was verteenwoordig. Die partye was Swapo, die CoD, die RDP en UDF. Hulle het van die polisiehoof gehoor hulle moet verdraagsaam teenoor mekaar wees. Alle politieke byeenkomste moet ook voor die tyd by die polisie aangemeld word.
Vir hom gaan dit net oor die veiligheid van ondersteuners van die verskillende partye. Die polisie sal nie by ’n partypolitiekery betrokke raak nie. Hy het partye versoek om elkeen ’n beampte aan te stel om mekaar te skakel.