SCORE CARD:


20 YEARS OF INDEPENDENCE

Vandag se koerant


Vandag se Spotprent


Gene Travers

Okahandja stem


Lesers 2010


Fotobeelde

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

01.03.10

Drywer skiet homself ná vragongeluk in woestyn

03.03.10

Stem Namibies

02.03.10

Tiger Reef bly in branders se visier

28.02.10

Ruiterstandbeeld staan weer trots

01.03.10

Beesdief steel ’n tweede keer

13.01.2009

Pohamba vra vir verdraagsaamheid


Van links is koningin Martha Mwadinomho Kristian Nelumbu, Minister Nangolo Mbumba, President Pohamba, goewerneur Usko Nghaamwa en Ministers Albert Kawana, Joel Kaapanda en Charles Namholo.
PRESIDENT Hifikepunye Pohamba het Swapo-lede, -ondersteuners, -simpatiseerders en alle “goedgesinde Namibiërs” versoek om te verseker dat die landswette gerespekteer word en dat verkiesingsveldtogte en ander politieke aktiwiteite in ’n vrye, regverdige en vreedsame atmosfeer geskied.

President Pohamba het Swapo-ondersteuners van die vier noordelike streke van Ohangwena, Oshana, Omusati en Oshikoto in een van die party se grootste magsvertonings nog, Saterdag toegespreek op ’n massa-vergadering wat in die Ohangwena-gedeelte van die Helao Nafidi-dorp in die Ohangwena- streek plaasgevind het.

Deel van die groot skare wat die eerste Swapo-vergadering van die jaar in die Ohangwena-gedeelte van die Helao Nafidi dorp in die Ohangwena-streek bygewoon het.
Die Staatshoof het sy toespraak as ’n “terugvoering aan die nasie” bestempel. “Julle het my die verantwoordelikheid gegee om die land te bestuur. My ampstermyn is amper verby en dit is my plig om aan julle terug te rapporteer,” het hy gesê.

President Pohamba, wat vrede en stabiliteit as die belangrikste boublokke vir ’n suksesvolle en voorspoedige nasie bestempel het, het gesê dat slegs politieke oortuigings gebruik moet word om politieke ondersteuning van burgers te vra.

Goewerneur Usko Nghaamwa toe hy die verwelkoming gedoen het.
“Uittartende dade wat tot geweldpleging kan lei, moet ten alle koste vermy word.” Volgens hom sou Swapo, as die grootste party in Namibië, die meeste verloor sou die land in chaos en anargie verval. “Ons moet nie verskonings verskaf aan diegene wat onstabiliteit in ons land wil sien nie. Ons moet waak teen provokasie.

Ministers Joel Kaapanda, Charles Namholo en Albert Kawana en ’n groot skare wat vir President Pohamba in die saal van die Oukwanyama Tradisionele Owerheid op Ohangwena gewag het.
Ons sien uit na ’n geloofwaardige, vreedsame, vrye en regverdige verkiesings hierdie jaar,” het hy gesê. Die vergadering het in die oop saal van die Oukwanyamastamkantoor plaasgevind, met groot tente wat langs die saal opgerig was om nog vergaderinggangers te akkommodeer.

President Pohamba het die saal as ’n geskiedkundige plek bestempel, aangesien dit die plek is waar Swapo-ondersteuners onder aanvoering van mnre. Simon Mzee Kaukungwa, wyle Eliaser Tuhadeleni, Toivo ya Toivo en mnr. Pohamba self, in Februarie 1964 ’n Suid-Afrikaanse minister wat die kantoor amptelik geopen het, uitgedaag en die seremonie ontwrig het.

Eerw. Kaluwapa Katenda van die Anglikaanse kerk wat die openingsgebed gedoen en die President ’n voorspoedige nuwe jaar, en die inwoners ’n vreedsame verkiesingsjaar, toegewens het.
Hy het te velde getrek teen “vandag se jeug” wat nie die veterane van die bevrydingsoorlog respekteer nie en ook nie hul bydrae erken nie. “Hulle sien mense soos mnr. Kaukungwa en bevelvoerder Mbulunganga as niks meer as swak en nuttelose ou manne wat niks vir die land gedoen het nie. Vandag se jeug waardeer nie die land se geskiedenis nie.

President Pohamba en mnr. Simon Kaukungwa, staan presies waar hulle in Februarie 1964 gestaan het toe hulle die destydse minister van inheemse sake uitgedaag het terwyl hy die Oukwanyama-stamkantoor amptelik geopen het.
Hulle weet nie hoeveel die mense vir hierdie land opgeoffer het nie,” het hy gesê. Mnr. Pohamba het mnr. Sam Nujoma geloof vir sy toewyding gedurende die bevrydingsoorlog en vir sy rol as stigterpresident van Namibië en het sy kommer uitgespreek oor beledigings wat hy tans verduur.

President Pohamba word by die Oukwanyama-stamkantoor op Ohangwena verwelkom.
“Namibië se geskiedenis sou onvoldoende wees sonder die naam van mnr. Sam Nujoma, maar daar is diegene wat sy naam probeer uitvee, wat onmoontlik is. Dit is moontlik dat hy hier en daar foute gemaak het, maar so het almal foute gemaak. Dit is menslik.”

Mnr. Pohamba het teen stamgebondenheid gewaarsku en gesê dit is jammer dat verskeie politieke partye in Namibië gestig is wat op etnisiteit gebaseer is. “Hulle weet hulle sal nooit wen nie, maar wil slegs Swapo se setels in die parlement verminder.”

Die veteraan politikus, mnr. Simon Mzee Kaukungwa (regs), is as ’n held en dapper vryheidsvegter voorgestel.
President Pohamba was die afgelope drie weke op ’n private besoek in die Ohangwenastreek. Sy amptelike program vir die jaar het Donderdag by sy tradisionele huis in die Okanghudi-nedersetting begin toe hy verskeie afvaardigings beurtelings ontmoet het.

’n Veteraan Plan-bevelvoerder, die befaamde “Commander Mbulunganga”, is onder groot toejuiging aan die skare voorgestel.
Dit het ’n afvaardiging van die Pakistanse Fatima Plastic Manufacturers van Helao Nafidi en die streek-koördineerder van Swapo in Ohangwena, mnr. Nestor Shuukwanyama, ingesluit. President Pohamba het Vrydag die dorpsraad van Eenhana ontmoet en is breedvoerig ingelig oor ontwikkeling en die uitdagings wat die dorp in die gesig staar.

Die Ndilimani kultuurgroep het by die vergadering opgetree en so het van die vergaderinggangers gereageer.
Saterdagoggend het die President die tydelike tuiste vir verwagtende vroue by die Engela distrikshospitaal besoek en die Omafo/Okalongo-pad getoer om hom op die hoogte te bring met die vordering van die herstel van brûe wat deur verlede jaar se verwoestende efundja beskadig was. “Ek is nie tevrede met wat ek gesien het nie en ek gaan die kwessie met die Minister (van Werke en Vervoer) opneem,” het hy na sy inspeksie van verskeie brûe gesê.