5.10.2009 Pohamba vra kerk om te help
DIE Namibiese Staatshoof het hom op die land se geestelike leiers beroep om deur middel van hul onderskeie kerke kiesers aan te moedig om die komende algemene en Presidentsverkiesings vreedsaam te benader en hulle van enige onverantwoordelike uitsprake en optrede te weerhou.
Pres. Hifikepunye Pohamba het onlangs vir byna drie uur met die leierskap van lidkerke van die Raad van Kerke in Namibië (CCN) by Staatshuis vergader. Dit was nadat die Staatshoof die CCN per brief in kennis gestel het dat hy graag met die land se geestelike leiers oor die komende verkiesings wil praat.
Ds. Pine Pienaar, nuwe moderator van die NG kerk in Namibië, het na afloop van die samespreking gesê Pres. Pohamba het die kerkvaders versoek om sy medewerkers vir vrede te wees. Altesaam 21 verteenwoordigers van 13 van die 14 lidkerke van die CCN was teenwoordig.
“Hy het gesê alle kerkleiers en gelowiges is sy vennote in die proses van nasiebou en dat hul rol om vrede te bewerkstellig, vir hom ontsaglik belangrik is.”
Volgens ds. Pienaar het die President beklemtoon dat mense wat in hierdie tyd en uur uitsprake maak wat nie vrede bevorder nie, “uiters onverantwoordelik” is.
Die Staatshoof het kerkleiers versoek om deur hul onderskeie kanale die boodskap aan mense op voetsoolvlak oor te dra dat uitsprake waarin opruiende taal as opsweping gebruik en beledigings rondslinger word, verkeerd is en voorkom moet word.
“Sy woorde aan ons was: ‘We want war no more (ons wil nie meer oorlog hê nie)’.”
Hierdie sterk uitspraak van Pres. Pohamba teen mense wat in die aanloop tot die verkiesing onverantwoordelike uitsprake van openbare verhoë maak, volg kort nadat sy voorganger, oudpres. Sam Nujoma, op ’n Swapo-vergadering op Ongwediwa gesê het: “Wie ook al ’n Engelsman ontmoet, slaan hom dood”.
Ds. Pienaar sê die President het in sy gesprek met die kerkleiers verwys na lande in Afrika waar dit sleg gaan en gesê anders as dié lande streef Namibië na vrede en stabiliteit.
“Hy het benadruk dat ons weet wat oorlog is omdat ons al daar deur is en dat ons as Namibiërs nie weer daardie pad wil loop nie.”
|