
Dr. David Namwandi en President Hifikepunye Pohamba by die prysuitdeling vir die toppresteerders van 2011 se eksterne eksamens.
MEER as ’n honderd toekennings is verlede week oorhandig aan leerlinge en skole wat die beste in die NSSCeksamens en JSC-eksamens gevaar het.
President Hifikepunye Pohamba het die kontantpryse en trofeë aan die onderskeie top graad 12-leerlinge, die beste onderwysdirekteur, die beste streek en skool oorhandig.
Die Adjunkminister van Onderwys, dr. David Namwandi, het die res van die pryse oorhandig.
Die President het gesê die toekennings is deel van die Regering se pogings om akademiese vooruitgang te bevorder.
Hy het gesê die prestasies wys dat met harde werk en toewyding, die Namibiese onderwysstelsel goeie resultate kan lewer en dit moet ander leerlinge ook motiveer om hard te werk.

Dr. David Namwandi oorhandig ’n geraamde skoolkalender aan President Pohamba by die prysuitdeling vir die toppresteerders van 2011 se eksterne eksamens.
Pohamba het gesê die Regering wy hom daaraan om gehalte onderwys aan oud en jonk te voorsien en daarom word 23 persent van die jaarlikse begroting aan onderwys toegeken. Hy het voorts gesê na verlede jaar se Nasionale Onderwysberaad moet die Ministerie van Onderwys en die betrokke rolspelers hard werk om die resolusies te implementeer wat deur die Kabinet goedgekeur is.
“Dit is deur onderwys en opleiding dat ons ’n bevoegde en doeltreffende arbeidsmag kan skep wat aan die vereistes van die moderne ekonomie sal kan voldoen.”
Pohamba is van mening dat Namibië ’n sterk onderwysgrondslag vir leerlinge veral in wetenskap en tegnologie moet hê. “Dit sal verseker dat die uitslag van onderwys en opleiding op alle vlakke ná basiese onderrig, direk met werkskepping, die ontwikkeling van vaardighede en die skepping van rykdom verband hou.”
Pohamba het gesê 2011 was ’n moeilike tydperk vir leerlinge, onderwysers, skooladministrateurs en die hele onderwyssektor in Namibië omdat die lewering van onderwys in sekere dele van die land deur vloede gekniehalter was. Nie net was die vloede ’n probleem nie, maar ’n tekort aan onderwysers was in sommige vakke ondervind, ’n tekort aan leermateriaal en ook nie genoeg klaskamers nie.
Die President het skole en leerlinge wat ondanks die omstandighede gepresteer het, gelukgewens en gesê die Regering werk daaraan om die probleme op te los.
Pohamba het ouers en die gemeenskap aangemoedig om aan te hou om aktief by die onderrig van leerlinge betrokke te wees, want dit is noodsaaklik vir die akademiese sukses van leerlinge.
Pohamba het voorts leerlinge wat nie vir ’n prys in aanmerking gekom het nie, aangemoedig om hard te werk, dissipline te handhaaf en respek teenoor hul onderwysers te toon. Hy het gesê leerlinge moet op hul studies fokus en wegbly van enigiets wat hul aandag kan aflei.
Mnr. Johannes !Gawaxab, die besturende direkteur van Old Mutual Afrika, het gesê die maatskappy stel N$1,05 miljoen oor ’n tydperk van drie jaar beskikbaar om goeie prestasies deur leerlinge en skole te beloon.