
Kinders van voormalige vryheidsvegters kamp meer as ‘n maand na hulle met ‘n protesaksie begin het, steeds in die straat voor die Ministerie van Veterane Sake in die middestad van Windhoek. Hulle weier om die perseel te verlaat omdat hulle nog nie ‘n tasbare oplossing vir hul saak gevind het nie.
KINDERS van voormalige vryheidsvegters wat in die buiteland gebore is, klou onverbete aan die hoop dat die Regering werksen studiegeleenthede vir hulle sal skep meer as ‘n maand nadat hulle in die straat voor die Ministerie van Veterane Sake in die middestad van Windhoek begin uitkamp het.
Dit volg nadat die Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, eerwaarde Willem Konjore, hulle die afgelope Vrydag weer ingelig het oor die plan wat op Kabinetsvlak ten opsigte van die protesgangers bespreek is,. Min. Konjore het hulle vir ‘n tweede keer vertel dat ‘n taakspan uit die geledere van sewe ministeries, die Nasionale Beplanningskommissie en die Swapo-party saamgestel om die slepende kwessie by te lê.
Ingevolge die besluit is ’n koördinerende komitee uit die geledere van die Ministeries van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur; Veterane Sake; Verdediging; Onderwys; Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn; Binnelandse Sake; Veiligheid en Sekuriteit; asook die Nasionale Beplanningskommissie en die Swapo-party saamgestel om die vraagstuk op te los.
Die Ministerie van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur staan in beheer van die komitee. Die kinders is aangesê om te registreer sodat die proses kan begin om hulle van werk te voorsien. Ten spyte daarvan het ‘n gedeelte van die groep wat oorspronklik in die straat begin uitkamp het, besluit hulle sal nie skuif voor ‘n definitiewe en tasbare antwoord nie aan hulle voorgelê word nie.
Mnr. Shinedima Salom, ‘n lid van die nuwe komitee wat verkies is om die groep kinders te verteenwoordig, het gesê die beloftes wat nou weer aan hulle gemaak is, laat die groep voel asof hulle gedwing word om terug te keer na waar hulle vandaan gekom het. “Ons het saam met die kinders van ministers en senior staatsamptenare in die militêre kampe van Swapo in die buiteland grootgeword, maar nie een van diegene se kinders is hier saam met ons op straat nie.
Die belastingbetalers voorsien in al die spesiale kinders se benodigdhede en sedert hulle na die land teruggekeer het, het hulle nog nie ’n dag lank swaar gekry nie.” Volgens mnr. Salom sal die groep jeugdiges hul kampplek in die straat op een voorwaarde verlaat en dit is as hulle, soos in hul kinderdae, in ‘n militêre basis gehuisves sal word.
Benewens die huisvesting sal die staat ook na hul voedselbenodigdhede moet omsien. ‘n Gedeelte van die groep jeugdiges het, na hulle die eerste keer deur Min. Konjore toegespreek is, besluit om na hul huise terug te keer, maar na hulle nie aan die einde van September ‘n tasbare oplossing vir hul probleem ontvang het nie, het van hulle weer begin terugkom en hulle woon nou weer op straat.