SWAPO misbruik die sogenaamde kinders van die bevrydingstryd vir politieke gewin. Boonop is ’n Kabinetbesluit dat poste in die staatsdiens gereserveer moet word tot die sowat 8 000 bevrydingstrydkinders almal werk het, die ernstigste vorm van diskriminasie en ongrondwetlik.
Dit is die standpunt van die DTA van Namibië toe die party se sekretaris-generaal, mnr. McHenry Venaani, die week ’n nuuskonferensie in Windhoek toegespreek het. Hy meen Swapo is besig om ’n pr obl e em t e skep wat algaande in ’n monster sal verander.
“Net soos Swapo 20 jaar na onafhanklikwording gyselaar gehou is deur voormalige PLAN-vegters, sal hierdie nasate aanhou terugkom en in die jare wat kom by die regerende party bly spook,” het mnr. Venaani gesê.
Hy sê sedert onafhanklikwording is dit duidelik Swapo se beleid om voorkeur aan partylede, veral die wat in ballingskap was te gee, tot nadeel van almal wat in Namibië gebly het.
Met hierdie besluit diskrimineer Swapo nie net teen alle jong Namibiërs nie, maar ook teen sy eie lede wat nie in ballingskap was nie, asook die “vrygeborenes” wat moeite gedoen het om skool toe te gaan en ’n opvoeding te kry.
“Namibië is vir 20 jaar onafhanklik en ons moet hoor dat die Swapo’s wat in ballingskap was, meer belangrik is as die wat in die land gebly het. Die ballingskapgeloofsbriewe word nou afgewater en is niks om meer op trots te wees nie. Dit sou baie meer beteken het as hierdie Swapo-ondersteuners daarin geslaag het om na 20 jaar iets in hul lewens te bereik het.
“Die DTA van Namibië kan nie help om te wonder waar hul bevrydingstrydnasate al die tyd was nie. Waar was hulle net na onafhanklikwording? Indien hulle kan bewys dat hulle die kinders van Swapo-lede in ballingskap was, waar is daardie lede en hoekom kyk hulle nie na hul eie kinders, soos ander Namibiërs moet doen nie? Hoekom het hierdie kinders nie gebruik gemaak van Swapo se ‘gratis onderwys’ oor die afgelope 20 jaar nie? Het hierdie 10 000 sogenaamde nasate van PLAN-vegters wettige en bewysbare eise dat hulle die nasate van voormalige bannelinge is of is dit bloot werklose mense wat op die soustrein spring om gereserveerde werk in die staatsdiens te kry?
“As gevolg van die Regering se onderwysstelsel is honderde duisende jongmense tot die straathoeke van Namibiese dorpe en stede sedert onafhanklikwording verdoem. Die DTA is seker dat heelwat van hulle ten minste graad 10 behaal het en graag sou voordeel trek uit hierdie vries van werkgeleenthede in die staatsdiens wat deur die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, aangekondig is, omdat baie van hulle ook sekerlik die nasate van Swapo-ondersteuners is wat binne Namibië gebly het.
“Die DTA is daarvan oortuig dat hierdie werk vir die kinders van die bevrydingstryd, niks meer as ’n verkiesingsfoefie deur Swapo en boonop ’n wrede een is. Enige pos in die staatsdiens vereis ’n sekere vlak van akademiese vaardigheid en hierdie kinders het self gesê hulle kan nie werk kry nie omdat hulle nie oor akademiese kwalifikasies beskik nie. Die Eerste Minister is dus oneerlik en nie opreg nie wanneer hy verwagtinge by hierdie mense skep dat hulle aangestel sal word, terwyl hy in sy hart weet dat dit onwaarskynlik is en bloot goed klink voor ’n verkiesing.
“Die DTA wil sover gaan as om te sê dat die diskriminasie deur Swapo teen sy eie mense asook ander Namibiërs onregverdig en onaanvaarbaar is. Vandag word sommige mense beskou as meer gelyk as ander, om George Orwell aan te haal.
“Die DTA van Namibië se oplossing vir die probleem is dat die geld gevind moet word om hierdie mense terug te stuur skool toe of na kolleges sodat hulle die nodige onderwys en opleiding kan ontvang wat hulle in staat sal stel om in die ope arbeidsmark van die toekoms om werk mee te ding. Die staatsdiens kan nie ’n stortingsterrein vir Swapo se probleme 20 jaar na onafhanklikwording word nie. Die DTA beskou dit as heeltemal onregverdig en diskriminerend,” het mnr. Venaani gesê.