Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

27.08.2010

Petroltekort lê Noorde lam

DIE nypende petroltekort in die verre noorde van die land kon nie op ’n meer ongeleë tyd gekom het met duisende besoekers wat na die Ongwediva Handelskou stroom wat vandag afskop en die vakansieseisoen wat aan die gang is nie.

Verskeie eienaars en bestuurders van vulstasies in die Noorde beskou die petroltekort as ’n groot krisis. ’n Tekort aan die meer gebruikte 95-oktaanpetrol word veral ondervind. ’n Aantal vulstasies op Oshakati se petrol het vandeesweek sporadies opgeraak nadat hulle net ’n voorraad van sowat 5 000 liter in stede van hul normale bestellings van tussen 20 000 en 24 000 liter ontvang het. Motoriste staan in lang rye by petrolstasies op Oshakati en Ondangwa om vol te maak, het personeel bevestig.

“As ons nie vandag petrol kry nie gaan ons ’n krisis tydens die Ongwediva Handelskou beleef,” het mnr. Jupy van der Merwe van Engen Spar op Oshakati gister bekommerd gesê. “Eergisteraand het ons petrolpompe leeg geraak en die motoriste moes omdraai om by ander vulstasies petrol te kry. Gisteroggend het ek weer petrolvoorraad gekry en die vulstasie oorkant my se pompe was weer leeg.” Dit blyk egter of daar nie ’n tekort aan diesel is nie.

By die Le Platz Engen vulstasie op Tsumeb word ook ’n petroltekort ondervind, het die diensbestuurder, me. Elizabeth Mbonge, bevestig. “Ons het eergsiter net 10 000 liter 95-oktaan ontvang en dit was gister op. Ons is met die vakansietyd baie besig en ons kliënte is baie ontevrede.”

Die vulstasies in die Noorde wat deur die petroltekort geraak word, ontvang hul petrolvoorraad van die Shell-depot op Tsumeb wat aan verskeie Engen-, BP- en Caltex-vulstasies lewer.

Volgens die eienaar van Fourways Total op Otavi, mnr. Christo Dreyer, is daar geensins ’n petroltekort op die dorp nie. “Ons ontvang ons petrol van die brandstofdepot op Otavi. Ons het gister weer ’n groot tenk petrol bestel en ontvang.”

In die sentrale, suidelike en kusgebiede van die land is daar ook nie ’n tekort nie. Die verspeidingsbestuurder van Engen Namibië, mnr. Rynier du Preez, skryf die petroltekort in die Noorde toe aan logistieke probleme by die Shell-depot op Tsumeb. “Dit is nie ’n krisis nie, maar ’n korttermyn probleem. Ons probeer alles in ons vermoë om al die vulstasies ‘nat te hou’.”

Volgens hom is die logistieke probleem die konstruksie en opgradering van die syspoorlyn by die Shell-depot op Tsumeb. Die konstruksie aan die syspoorlyn beperk die aantal treintrokke wat die petrolvoorraad vanaf Walvisbaai vervoer. Waar byvoorbeeld nege treintrokke voorheen afgelaai kon word, kan nou net vier afgelaai word, sê hy.

“Ons probeer om al die vulstasies te akkommodeer deur nou van vragmotors gebruik te maak wat die petrolvoorraad van Walvisbaai per pad na die Noorde vervoer. Die omdraaityd vir ’n vragmotor is drie dae, dus is daar tye wat ons korttermyn probleme ondervind,” het mnr. Du Preez bevestig. In sulke “droë” tye soos nou word vulstasies dus met kleiner petrolvoorrade gerantsoeneer.

Hy is bewus van die stormloop na die Ongwediva Handelskou en sê daar is rondom dit beplan om voldoende petrolvoorraad aan vulstasies in die omliggende omgewing te stuur. “Ons fokus daarop om voldoende produkte na al die vulstasies naby die Handelskou te stuur sodat hulle genoeg voorraad het.” Teen gister was vier tenkvragmotors reeds uit Walvisbaai onderweg na die verre noorde, het hy bevestig.

Mnr. Du Preez het gerugte dat daar ’n vertraging van tenkbote by die Walvisbaaise hawe is en dat ’n miljoen liter diesel verkeerdelik in ’n petroltenkwa getap is, in die kiem gesmoor.

“Die brandstofdepot op Tsumeb ondervind beperkinge weens die syspoorsylyn wat onder konstruksie is en na voltooiing sal alles weer na normaal terugkeer,” het hy gesê.