3.09.2010 Petrolkrisis in Noorde verby
DIE brandstofsituasie in Namibië sou gister na normaal teruggekeer het. Die goeie nuus kom van die besturende direkteur van Engen Namibia, mnr. Anthony Chiappini, nadat die Verre Noorde die afgelope week ’n nypende petroltekort in ’n kritieke tydperk tydens die Ongwediva Handelskou beleef het.
“Engen is tans besig om per spoor en per pad alle kliënte van ULP 95 (95-oktaan petrol) te voorsien,” het mnr. Chiappini in ’n e-pos aan Republikein geskryf.
Hy het ook klem daarop gelê datdie Namibiese Petroleummaatskappy (Namcor) se tenkskip eers Woensdag om 11:00 in Walvisbaai se hawe aangekom het, en nie reeds verlede Vrydag soos die besturende direkteur van Namcor, mnr. Sam Beukes, verwag het nie. “Engen laai die olie van al Namcor se tenkskepe in die Namibiese oliemaatskappye se tenks af, dus behoort ons te weet wanneer daar bote is.
“Die genoemde tenkskip sou op Saterdag 28 Augustus aangekom het, maar was op 1 September om 11:00 langs die tenkerkaai,” het mnr. Chiappini per e-pos geskryf.
“Dit sal deur Namport in Walvisbaai bevestig kan word. Personeel van Engen het dadelik begin om die olie af te laai.”
Mnr. Beukes het by navraag teenoor Republikein erken dat Namcor se tenkskip eers eergister in Walvisbaai se hawe aangekom het.
“Mnr. Chiappini is reg, die skip sou verlede Vrydag vasgemeer het, maar het eers Woensdag aangekom,” het mnr. Beukes bevestig.
“Die feit dat die skip toe eers in Walvisbaai aangekom het, sou egter nie ’n verskil aan die petroltekort in die Noorde gemaak het nie. Die oorsaak van die probleem is die drukgang-effek wat weens logistieke probleme ontstaan het.”
Intussen het ene mnr. Naftal Kakwambi van Engen Oil op mnr. Deon Nagel, eienaar van twee Engen-vulstasies op onderskeidelik Oshakati en Ondangwa, se gewraakte e-pos gereageer en ook ’n afskrif aan Republikein gestuur.
“Mnr. Anthony Chiappini sal die handelaarskonferensie van Engen op 24 September bywoon en aandag aan die kwessie oor brandstoflewering skenk.”
Die petrolkrisis in die Verre Noorde het inderdaad gister na normaal teruggekeer. Mnr. Nagel het gister 10 000 liter 95-oktaan petrol ontvang waaroor hy baie dankbaar is.
Die verspreidingsbestuurder van Engen Namibia, mnr. Rynier du Preez, “het my ingelig dat die trein met brandstof op Tsumeb verwag word en dan sal alles tot normaal terugkeer. Ek is vol waardering dat hy my ingelig het oor die stand van sake, want nou kan ons met ons klante praat en oordeelkundige beplanning doen,” het mnr. Nagel in ‘n e-pos aan Republikein geskryf.
Ander vulstasies op Oshakati het ook bevestig dat hulle sowat 10 000 liter 95-oktaan petrol ontvang het.
|