Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


8 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

1.09.2010

Petrol droog op in Noorde

DIE petroltekort in die verre noorde van land het in ‘n volskaalse krisis ontaard met sommige vulstasies wat in die kritieke tydperk tydens die Ongwediva Handelskou sonder petrolvoorraad is.

Verskeie groot vulstasies het bevestig dat hulle sedert verlede Saterdag, pas na die opening van die handelskou wat deur duisende mense bygewoon word, tot gister “droog gestaan” het.

Alle vingers wys na die swak beplanning en verspreiding van petrol deur oliemaatskappye.

Die besturende direkteur van die Namibiese Petroleummaatskappy (NAMCOR), mnr. Sam Beukes, het gister bevestig dat NAMCOR se petroltenke op Walvisbaai vol staan nadat ‘n vrag petrol verlede Vrydag per vragskip afgelaai is.

“Daar is beslis nie ‘n tekort aan brandstof nie, dus lê die probleem by die oliemaatskappye wat nie die vulstasies bedien nie. Hul beplanning wanneer vragmotors petrol moet aflewer, is swak.”

Die hoof uitvoerende beampte van die Namibiese Sekretariaat van Oliemaatskappye, mnr. Harald Schmidt, het ook bevestig dat die petroltekort nie ‘n nasionale krisis is nie, maar slegs beperk is tot vulstasies in die Verre Noorde wat afhanklik is van die brandstofdepot op Tsumeb. Die probleem is ook nie dat daar nie genoeg petrol by die depot op Tsumeb is nie, “maar die verspreiding daarvan na die spesifieke gebied”, het mnr. Scmidt gesê.

Die probleme rondom die petrolkrisis in die Verre Noorde verskil vandeesweek teenoor verlede week. “Verlede week was die probleem TransNamib se gebrek aan lokomotiewe om met die rangeer van treintrokke by te staan. Nog ‘n rede was die opgradering van die depot op Tsumeb wat op die oomblik net vier tenkwaens, instede van die normale agt tenkwaens kan huisves,” volgens mnr. Schmidt.

Vandeesweek se probleme, volgens hom, kan toegeskryf word aan probleme met die logistieke infrastruktuur met bykomende druk wat op die verspreidingslyn geplaas is. “Daar is ook genoeg brandstof op Tsumeb, maar ‘n bottelnekeffek het begin en na ander aspekte versprei waar die infrastruktuurstelsels nie meer die druk kan hanteer nie,” het hy gesê.

Die grootste logistieke probleem is die lang afstande na die Verre Noorde, volgens mnr. Schmidt.

Vandeesweek het oliemaatskappye probeer om vulstasies in die gebied te akkommodeer deur van vragmotors gebruik te maak wat die petrolvoorraad van Walvisbaai per pad na die Noorde vervoer. Die omdraaityd vir ‘n vragmotor is drie dae. In sulke “droë” tye word vulstasies met kleiner petrolvoorrade gerantsoeneer.

“Selfs al loop Walvisbaai oor van brandstof het ons nie die infrastruktuur om die produk op ‘n gereelde en vinnige basis na Tsumeb te vervoer nie. Die Tsumeb-depot word gekoppel aan ‘n verspreidingsdepot van diensstasies wat oor ver afstande bedien word. Die omdraaityd is die langste in die land,” het mnr. Schmidt verduidelik.

Voorts mag tenkvragmotors nie snags ry nie weens veiligheidsaspekte.
Volgens mnr. Dirk Nagel wat twee vulstasies op Oshakati en Ondangwa bedryf, ondervind vulstasies hier die afgelope sewe jaar tydens piektye, soos tydens Desembervakansies, Paasnaweke en die Ongwediva Handelskou, probleme met ‘n tekort aan brandstof.

Hy het ‘n sterk bewoorde e-pos aan Engen en eienaars van Engen vulstasies landwyd gestuur waarin hy sy ontevredenheid oor die petroltekort uitspreek. “Ons kry nie antwoorde van Engen nie, maar ons op voetsoolvlak by die vulstasties moet ons kliënte wat ons elke dag ondersteun in die oë kyk en probeer verduidelik waarom hier nie petrol is nie.”

‘n Vulstasie op Onyana, sowat 40 km suid van Ondangwa, het net 1 900 liter petrol Saterdag ontvang, het die groepredakteur van Democratic Media Holdings, mnr. Chris Jacobie, gister op pad na die Ongwediva Handelskou rapporteer. Op Tsumeb is die petroltekort as chaoties beskryf.

Die verspreidingsbestuurder van Engen Namibië, mnr. Rynier du Preez, het gister gesê hy is verbied om met Republikein te praat. Die sekretaresse van die besturende direkteur van Engen Namibië, mnr. Anthony Chiappini, het gesê hy is nie vir kommentaar beskikbaar nie.