3.07.2009 Pasiënte met leë mae…
 Katutura-hospitaal se leë kombuis met geen teken van enige kos of -voorbereiding nie. Pasiënte het gister geen middagetes ontvang nie.
PASIËNTE in die Katutura-hospitaal het gister vergeefs uitgesien na ’n middagete wat, soos alle etes in ’n hospitaal veronderstel is om hul kragte op te bou, nooit aan hulle voorgesit is nie.
Tydens ’n besoek van Republikein aan die hospitaalkombuis was dit dolleeg en die kookgeriewe yskoud met geen teken van enige voorbereiding van kos nie. ’n Muis het boonop ten aanskoue van ’n verleë toesighouer oor die kombuisvloer gehardloop.
Leë groenteen vrugtebokse het buite die kombuis gestaan. Kombuispersoneellede wat in kantore rondgesit het, het bevestig dat geen kos in die yskaste of op die kombuisrakke is nie en dat geen middagete voorberei is nie.
’n Toesighouer in die kombuis wat probeer het om die verslaggewer te verwilder, het geweier om die yskaste oop te sluit.
“Wat soek jy hier? Gaan weg! Jy wil net my Regering slegmaak,” het sy woedend geskree.
Volgens die personeel was die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste glo besig om bestelvorms uit te reik om kos te bestel. Laatnamiddag het hospitaalpersoneel telefonies kosbestellings vir pasiënte se aandete probeer plaas.
’n Oproep is onder meer na Hartliefs gemaak om wors te bestel. Roynam Caterers is glo verantwoordelik vir die koslewering aan die hospitaal en hul naambord staan groot buite die kombuisdeure.
“Die afgelope tyd lewer hulle nie ’n goeie diens nie,” het ’n personeellid gesê.
Die bestuurder van Roynam Caterers, mnr. Larry Gonteb, kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.
Die mediawoordvoerder van die Ministerie van Gesondheid, me. Gladys Kambo, het gesê dat die Ministerie bewus is van die kossituasie by die Katutura-hospitaal, maar sy kon geen inligting verskaf nie.
Dit is na bewering nie die eerste keer wat pasiënte van die hospitaal nie etes ontvang nie.
|