
Voertuie wat groot Swapo-vlae vertoon, is algemeen op die paaie in die Noorde. Hierdie “konvooi” het by Adolifi langs die Oshakati-Ondangwa-pad stilgehou, onderweg na ’n Swapo-vergadering by Okaku.
MET 2 500 nuwe lede in een maand vaar die Rally for Democracy and Progress (RDP) redelik goed in die Ohangwena-streek, maar dit is ook nie alles net rooskleurig nie.
“Pogings word voortdurend aangewend om die party se aktiwiteite in die wiele te ry,” het streeksekretaris, mnr. Timo Shikongo, Sondag gesê toe hy die besoekende RDP-leier, mnr. Hidipo Hamutenya, oor die party se werksaamhede in die streek ingelig het.

Die gesig van Oshakati het oornag verander, met die RDP en die DTA wat groot reklameborde langs die hoofstraat opgerig het.
“Die RDP vaar baie goed in die Ohangwena-streek. Ons het gedurende Oktober alleen 2 500 nuwe lede gekry. Maar ons ervaar ook ’n verskeidenheid uitdagings weens lafhartige Swapo-optredes met voortdurende pogings om ons toegang tot die inwoners te beperk. Bome in die woud, openbare grond en selfs private huise het Swapoeiendom geword in ’n poging om die RDP enige beweegruimte te ontsê. Ons het nêrens meer om ons vergaderings te hou nie. Selfs ’n stuk grond wat ons van die tradisionele owerheid van Okongo gekry het, is tans die onderwerp van ’n hofgeding,” het hy gesê.
Mnr. Shikongo het gesê Swapo misbruik sommige hoofmanne om die RDP toegang tot hul nedersettings te weier. Hy het egter die hoofmanne wat die “Swapo-manipulasies” verwerp het, geloof.
Volgens hom is minstens vyf RDP-aktiviste onlangs in twee afsonderlik voorvalle deur Swapoondersteuners aangerand, terwyl minstens een deur ’n hoofman met uitsetting uit die nedersetting gedreig word omdat hy die RDP ondersteun.

Massavergaderings bied goeie geleenthede aan smouse om aandenkings in partykleure te verkoop – en dit verkoop soos soetkoek. Die foto is Saterdag by ’n Swapo-vergadering in die Okaku-kiesafdeling van Oshana geneem.
Me. Hilka Kakuva, wie se RDPlidmaatskapkaart tydens ’n onlangse Swapo-vergadering by Okongo aan President Hifikepunye Pohamba gewys is as een van die RDP-lede wat na Swapo teruggekeer het, het Sondag die beweringe verwerp.
“My lidmaatskapkaart is onder vals voorwendsels gevat, maar ek bly ’n lid van die RDP,” het sy gesê. Mnr. Ismael Shailemo, wat by dieselfde vergadering gepraat het, het “die huidige stamgebonde neigings” in Namibië gekritiseer en gesê selfs voor onafhanklikwording het alle Namibiërs saamgestaan, sonder om na die etniese herkoms of die velkleur van individue te kyk. Hy het die huidige Swapo-regering as korrup bestempel.
“Enigiemand wat werklik korrupsie haat, sal vir die RDP stem.” RDP se hoof van politieke mobilisasie, mnr. Kandy Nehova, is egter van mening dat “korrupsie” net ’n “mooi klinkende” woord is vir diefstal.
“Dit is nie korrupsie nie, dit diefstal,” het hy gesê. Hoewel die RDP-optog en -vergadering sonder ernstige voorvalle verloop het, het ’n groep Swapo-ondersteuners onder leiding van distrik-koördineerder, mnr. Fanuel Ndadi, langs die hoofstraat betoog en die suide van die pad as ’n “no go area” vir die RDP verklaar.
Die Namibiese polisie moes ingeroep word om orde te handhaaf. Die meeste van die Swapo-ondersteuners wat voor die Tuhafeni Shebeen betoog het, is later naby die RDP-vergadering gesien waar hulle aandagtig na die sprekers geluister het.