29.10.2009
Partye praat oor vroue
POLITIEKE partye het Dinsdag die geleentheid gekry om ’n dialoog met vroue te hê wat hul saak kon stel oor verskeie sake wat vroue raak. Die dialoog is gereël deur die Women’s Leadership Centre.
Nangof Volgens die uitvoerende direkteur van die sentrum, me. Elizabeth /Khaxas, word vroue 20 jaar na onafhanklikwording steeds as tweedeklas burgers beskou.
In haar bydrae het me. Anna Beukes, uitvoerende direkteur van die federasie vir nie-regeringinstansies, Nangof, gesê die tyd het aangebreek vir vroue om volle burgerskap en regte op te eis en standpunt in te neem ten opsigte vanwat hulle graag wil hê moet verander.
“Namibië se Grondwet waarborg gelykheid tussen mans en vrouens. Namibië het die Verenigde Nasies (VN) se konvensie vir die uitskakeling van alle vorms van diskriminasie teen vrouens (CEDAW), die Beijingplatform vir aksie en die Afrika-unie se protokol oor die regte van vroue in Afrika bekragtig. Die land sal hopelik binnekort ook die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se protokol oor geslag en ontwikkeling bekragtig.
“Namibië het nasionale geslagwetgewing ingestel soos die wette op huishoudelike geweld en verkragting, maar dit bly steeds een van die mees gewelddadige en ongelyke samelewings in die wêreld. Ons het wette wat net op papier bestaan en wat min doen om die menseregte van vroue en meisies te beskerm omdat dit nie behoorlik geïmplementeer is nie. Boonop is dit nie in die harte en gedagtes van ons mense vasgevang nie, omdat alle vroue nog nie beskou of erken word as volle mense en burgers wat op die beskerming van die staat geregtig is nie,” het me. Beukes gesê.
Sy wys daarop dat openbare plekke, die staat en sleutelinstansies 20 jaar na onafhanklikwording steeds deur mans oorheers word.
“’n Kritiese massa vroue op alle vlakke van staatsbestuur moet mekaar oor partypolitieke grense ondersteun en verseker dat wetgewing van belang vir alle vroue aanvaar en toegepas word.”
Sy wys ook daarop dat die 50/50 geslagsverteenwoordiging in die Parlement nie ná hierdie verkiesings verwesenlik sal word nie. Burgerlike organisasies het saamgestaan en met kollektiewe eise vorendag gekom wat hulle nou eis deur politieke partye geïmplementeer moet word.
“Dit is nou die tyd om op te kom vir wat ons verander wil hê. Hierdie tyd voor die verkiesings is die tyd wat politieke partye die beste na die burgers luister en dit bied ’n unieke geleentheid aan alle burgers om dit duidelik te maak dat ons nie enige vorm van lyding sal aanvaar nie. Ons eis vryheid van geweld en diskriminasie, vryheid van skadelike kulturele gebruike en gelowe, vryheid van hongersnood en armoede en toegang tot bronne en dienste, vryheid van voorkombare siektes en toegang tot gehalte gesondheidsorg vir almal, vryheid van MIV en vigs en toegang tot gehalte onderwys en opleiding,” het sy gesê.
CoD
In sy bydrae tot die dialoog het die president van die Congress of Democrats (CoD) , mnr . Ben Ulenga, gesê vroue maak die meerderheid van die Namibiese bevolking uit.
Ondanks vordering wat sedert onafhanklikwording gemaak is, word die bydrae wat vroue lewer nie ten volle deur die gemeenskap waardeer nie. In gemeenskappe oor die lengte en breedte van die land is vroue die slagoffers van geweld, verkragt ing en passiemoorde.
Die Regering het min oor die afgelope 20 jaar gedoen om vrouesake in die hoofstroom van die land se ontwikkelingsagenda in te bring. Die CoD is daartoe verbind om ’ n hoë premie te plaas op vroue se bydrae tot die gemeenskap.
Dit is die enigste wyse waarop Namibië kan voordeel trek uit die bydraes en vindingrykhei d van meer as die helfte van sy burgers.
Die CoD sal ook nóú saamwerk met nie-regeringinstansies om alle wetlike beperkinge te verwyder wat gelyke deelname van vroue bemoeilik. Geleenthede moet op skool en by inrigtings van hoër onderwys geskep word vir die jeug om vrylik aan politieke debatte en aktiwiteite deel te neem.
Wat die ontwikkeling van vaardighede en werkgeleenthede betref, sê die CoD-manifes dat arbeid al wyse vir die meerderheid Namibiërs is om ’n inkomste te verdien.
Vandag sit meer as 40 persent van inwoners egter werkloos op straathoeke op soek na los werkies. Om die land en sy mense aan die werk te kry, onderneem die CoD om stelselmatig die skade te herstel wat Swapo die land op die gebied van onderwys en opleiding berokken het.
Die party sal nie net wegdoen met verskuilde koste verbonde aan onderwys nie, maar ook gratis onderwys tot op basiese vlak op universiteite verskaf, het mnr. Ulenga gesê.
Namibia DMC
Die sekretaris-generaal van Namibia DMC, mnr. Joseph Kauandenge, het op sy beurtgesê sy party is verbind tot sterk optrede ten einde vroue hul regmatige plek in die samelewing te gee.
Hy het verwys na die voorbeeld toe onlangs by die huis van die Minister van Binnelandse Sake en Immigrasie ingebreek is en die polisie en selfs die Minister van Veiligheid en Sekuriteit dadelik op die toneel was.
Wanneer so iets egter met ’n gewone vrou gebeur, doen die owerheid niks, sê mnr. Kauandenge. Hy sê Namibiërs is geregtig op vryheid van honger en armoede. Die land met sy klein bevolking van twee miljoen mense beskik oor voldoende natuurlike hulpbronne en dit is nie nodig dat enige een arm moet wees nie.
Hy sê baie ambassades het reeds hul deure in Namibië gesluit omdat hulle van mening is dat die land oor voldoende bronne beskik. Nog ’n saak wat hom verontwaardiggemaak het, is die toekenning van Chinese studiebeurse aan die kinders van vooraanstaande en welaf staatsamptenare en politici.
“Sommige van hierdie mense is meer as inhalig,” het hy bygevoeg.
Hy meen ook die tyd het aangebreek dat die leiers besef dat MIV/vigs almal raak. Dit is nie langer goed genoeg dat wanneer ’n naasbestaande van ’n politikus sterf, die dood aan tuberkulose toegeskryf terwyl die persoon inderdaad ’n MIV-lyer was nie.
Hy het die voorbeeld van oudpres. Nelson Mandela van Suid-Afrika genoem wat ruiterlik erken het toe een van sy familie aan MIV/vigs gesterf het. Hy vra ook hoekom baie van die ministers se kinders in Suid-Afrika op skool is, terwyl hulle volhou dat Namibiërs gehalte onderwys ontvang.
Hy meen die instelling van die Cambridge- stelsel was een van die grootste foute wat die Regering gemaak het. Volgens hom is die ou Bantoe- onderwysstelsel waar leerlinge wat gedruip het, die geleentheid gekry het om die jaar te herhaal, verkieslik.
Baie van vandag se vooraanstaande sakelui en politici is die produkte van Bantoe-onderwys. Wat homoseksualiteit betref, meen mnr. Kauandenge dit is ’n private aangeleentheid.
Nudo
Me. Utjiua Muinjangue van Nudo het gesê menseregte word in hoofstuk 3 en veral artikel 10(2) van die Grondwet uitgespel waar voorsiening vir gelykheid en vryheid van diskriminasie gemaak is. Geweld teen vroue is almal se probleem, ook die Regering s’n.
Dit is ‘n wesentlike probleem en dit moet reggestel word deur weer die eenheid van die familie te versterk sodat seuns van kleins af geleer kan word om vroue en meisies te respekteer.
Wette soos die wet op die bekamping van huishoudelike geweld bestaan, maar vroue behoort beter oor hul regte ingelig te word. Respek en menswaardigheid moet herstel word. Fundamentele menseregte sluit ook lesbiërs en homoseksuele in en word in die Grondwet gewaarborg.
Die Grondwet reguleer ook die Regering. Gevolglik moet enige beleid oor minderhede gelei word deur die Grondwet en ook maatskaplike norme in ag neem.
Vir Nudo is dit baie belangrik dat die Regering platforms vir debatvoering skep en dat mense liberaal genoeg in hul denke moet wees om nuwe denkrigtings te aanvaar.
Sy meen navorsing oor die sielkundige behoeftes van lesbiërs en homoseksuele behoort gedoen te word. Wat aborsies betref, sê me. Muinjangue dit is ’n uitdagende onderwerp.
Die moeder het volgens haar die reg om te besluit, maar wat dan van die regte van die vader en die ongebore baba?
Die werklikheid is egter dat onwettige, agterstraat aborsies plaasvind en dat lewens sodoende in gevaar gestel word. Die gevalle van mense wat babas weggooi, is ook aan die toeneem.
As Nudo aan bewind kom, sal deeglike navorsing gedoen word om die menings van die gemeenskappe in te win en openbare debatte sal oor baie van die netelige sake gereël word.
NDP
Die president van die National Democratic Party (NDP) mnr. Martin Lukato Lukato, het daarop gewys dat sy party in 2003 gestig is en van die begin af gelyke regte aan vroue gegee het.
Nie net het die NDP ’n 50/50-partylys met die sebrapatroon van een man gevolg deur een vrou opgestel nie, maar die party se skadukabinet bestaan ook uit ewe veel mans as vroue.
Die NDP onderskryf ’n federale bedeling waarin vroue op alle vlakke bemagtig sal word. Hy hoop om geweld teen vroue te voorkom deur wetgewing in die verband te aanvaar en ’n komitee van deskundiges aan te stel wat openbare verhore moet hou oor hoe om vroue te beskerm. Hy het homself as ’n beskermer van menseregte voorgestel.
Hy sê Namibiërs behoort vry te wees van hongersnood en dat die publiek se menings ingewin moet word oor hoe om armoede te bekamp. Klein lenings moet aan mense gegee word sodat hulle hul eie sakeondernemings kan begin.
Eweneens moet dit ook aan boere gegee word sodat hulle voedsel kan produseer wat oral beskikbaar is. Mense moet in staat wees om huise, water en elektrisiteit te bekostig. Meer moet gedoen word vir landelike ontwikkeling, sê mnr. Lukato.
Sy oplossing vir die MIV/ vigs-probleem is dat mense hulle tot die Here moet wend en bid dat die kwaad uit ons liggame verwyder word. Mense moet hulle by Bybelse beginsels hou.
Hy is ’n voorstander van gratis mediese en tandheelkundige sorg en meen onderwys moet gratis wees van graad nul tot graad 12.
Beurse moet vir tersiêre onderwys beskikbaar gestel word.
RDP
Die visepresident van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Steve Bezuidenhout, sê twintig jaar na onafhanklikwording is vroue steeds die beeld van armoede en diskriminasie in Namibië.
Hulle staar steeds die grootste bedreigings naamlik verkragting, moord en liggaamlike skending in die gesig. Mnr. Bezuidenhout sê negatiewe maatskaplike gedrag tas die waardigheid van mense aan.
Openbare bewustheid en opvoeding teen hierdie euwels moet in alle strukture van die samelewing gedoen word. Namibiërs verdien toegang tot bekostigbare behuising. Dit kan voorsien word deur die ekonomiese potensiaal van die land te ontsluit.
Damme moet ook gebou word om nie slegs rivierwater op te vang nie, maar ook om water wat met die vloede afkom, op te vang. Mense het skoon, bekostigbare water en bekostigbare elektrisiteit nodig.
Sonder elektriese krag kan mense nie ’n behoorlike lewe voer nie. Hy meen ook mededinging is goed vir die land en dat dit noodwendig tot ’n verlaging van pryse sal lei. Grondhervorming is volgens mnr. Bezuidenhout ’n klaaglike mislukking.
Die RDP ondersteun die beginsel van vrywillige verkoper, gewillige koper. ’n Grondkommissie moet ingestel word en die Regering oor die toekoms adviseer. Hy meen ook dat die wyse waarop grondlose mense bloot op plase afgelaai word sonder dat hulle oor die nodige kundigheid beskik om ’n sukses van ’n boerdery te maak,’n onding is.
’n Induksieprogram moet ingestel word waar potensiële begunstigdes van hervestiging opleiding in boerderytegnieke kan ontvang en hoe om die infrastruktuur in stand te hou. Vroue moet ’n integrale deel van hierdie program uitmaak.
Die RDP het ook ’n omvattende strategie vir die voorkoming van MIV/ vigs en staan bekostigbare, toeganklike, gehalte mediese sorg voor. Spesialisbehandeling moet deur die staat voorsien word in individuele gevalle soos die nood ontstaan.
Die RDP sal die onderwysstelsel versterk en verseker dat almal wat hul skoolopleiding voltooi, geletterd is. Studente wat wil studeer in strategiese rigtings waaraan die land ’n behoefte het, sal beurse van die staat ontvang.
SWANU
Mnr. Unaani Kauami, die organiserende sekretaris van Swanu, sê mans het die wette van land in ’n sekere politieke omgewing geskryf en dit dien net hul eie selfsugtige belange. Dit is noodsaaklik om saam te werk om kritiese probleme op te los.
Menseregte moet gehandhaaf word binne ’n milieu van ontwikkeling wat net moontlik is indien politieke stabiliteit heers. Hy skryf die probleem van geweld toe aan die politieke stelsel wat aan die orde van die dag is. Hy sê ook dat kapitalisme ’n uitbuitende stelsel is wat soortgelyk aan die vorige bedeling is.
Natuurlike hulpbronne word gekommersialiseer en geprivatiseer en strek net tot die voordeel van ’n sekere kliek wat mag het. Met die besluit om Namibië te bevry, is besluit om die vorige stelsel met ’n beter stelsel te vervang en onder meer beter onderwys beskikbaar te stel. Vandag sit Namibië egter met ernstige probleme.
Die onderwysstelsel is net in staat om straatkinders te produseer, sê hy. Hy betreur ook die feit dat net 16 persent van die bevolking oor mediese fondse beskik en die res van die bevolking aan hul eie genadeoorgelaat word.
Water is ’n noodsaaklikheid vir die bevolking en nie ’n voorreg nie, maar ’n reg. Hy meen aborsies kan net toegelaat word wanneer die moeder se lewe in gevaar is.