24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

2.10.2009

Partye looi ECN oor registrasieprobleme

MET Swapo self en die meerderheid opposisiepartye se pleidooie vir bykomende tyd vir die aanvullende registrasie van kiesers wat op dowe ore geval het, het verskeie partye aangedui dat hulle nie hul sorge oor die beweerde wydverspreide gebreke in die proses daar gaan laat nie.

“Ons gaan terug na die tekenbord,” het mnr. Hidipo Hamutenya van die RDP gister gesê oor wat hy ronduit as ’n “ramp” bestempel.

“Ons verstaan nie hoekom die kwessie doodgeswyg word nie,” het hy opgemerk. Volgens hom het die Verkiesingskommissie (ECN) duidelik die demokrasie reeds aan sy wortels “wanbestuur”.

Mnr. Henk Mudge van die RP het opgemerk dat hy dalk maar weer soos met die debakel verlede jaar oor die tussenverkiesing vir die Tobias Hainyeko-setel in Windhoek waaraan drie opposisiepartye onttrek het, by Pres. Hifikepunye Pohamba sal moet gaan aanklop.

Die opposisie is dit eens dat die ECN volledig te blameer is vir probleme met ’n baie belangrike proses, wat om alles te kroon op die eerste dag nie behoorlik uit die blokke kon kom nie.

Republikein het deur die loop van die proses verskeie klagtes van die publiek ontvang. In een van die jongste is ’n gesin by die registrasiepunt by St. Paul’s vir ’n hele jaar se munisipale rekeninge gevra. Uiteindelik is hulle huis toe sonder om te registreer.

Die vereiste om vir presidentsen nasionale verkiesings te bewys in watter kiesafdeling jy woon en binne die gebied te registreer, bly ’n twispunt.

“Wat van al die plakkers in Windhoek wat nie eens waterrekeninge kry nie?” wou mnr. Katuutire Kaura van die DTA onder meer weet.

In die bemarkingsveldtog oor aanvullende registrasie is gesê registrasie vir die volgende munisipale verkiesings is opsioneel. By baie punte is mense wat nie ’n telefoon-, krag- of waterrekening kon toon nie, blykbaar eenvoudig huis toe gestuur.

Behalwe vir die meer as 30 voorvalle van kiesbedrog waaroor die ECN Woensdag die sluier gelig het, wou die waghond van die demokrasie, na ’n voorval waarin ’n koevert vol aansoekvorms uit die Aminuis-kiesafdeling in die Omaheke- streek verdwyn het, bloot sê dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Behalwe vir die baie ander flaters waarvoor die ECN na sy mening sal moet pa staan, eis opperhoof Kuaima Riruako van Nudo dringende antwoorde oor die gebeurtenis.

Volgens hoofman Justus Garoëb van die UDF was ook op Khorixas in die Kunene-streek ’n grootskaalse aanry van mense uit ander streke om hier te registreer. Die party oorweeg formele klagte hieroor. Dit is juis in dieselfde streek waar die polisie nou moontlike verkiesingsbedrog deur drie Angolese burgers ondersoek.

Mnr. Garoëb dink dit gaan baie lank duur om ’n kiesersrol te finaliseer weens die probleme wat ondervind is en die ongerymdhede wat reeds geopenbaar is.

“Daar is ’n grootskaalse gemors aan die gang,” het die RP se mnr. Mudge benadruk. Sy kommer is dat die foute miskien “doelbewus” gemaak is.

Vir mnr. Ben Ulenga van die CoD was die relatiewe onvolwassenheid van kiesbeamptes ’n bydraende oorsaak tot die tekortkominge.

Volgens mnr. Ignatius Shixwameni van die APP is stemgeregtigde burgers gestraf vir die ondoeltreffendheid van die ECN.