24.07.2008
Padwerke by Okahandja
PADGEBRUIKERS wat gebruik maak van die hoofpad vanaf Okahandja na Karibib moet kennis neem dat hulle alternatiewe roetes sal moet volg om na Karibib en die Noorde te reis. Volgens ‘n verklaring van die Padowerheid moet motoriste kennis neem dat alle verkeer vanaf Otjiwarongo en die Noorde deur die Okahandja-dorpsgebied herlei word.
Die gedeelte van die hoofpad 7/1 na Karibib en Otjiwarongo sal vanaf die Nau-Aib/Okahandja-verkeerskruising (by die afdraai na Piet’s Biltong) gesluit wees. Verkeer sal herlei word deur Nau-Aib na Karibib en Swakopmund of deur Okahandja na Otjiwarongo. Dieselfde geld vir verkeer vanaf die kus en die Noorde. Volgens die verklaring sal die Veddersdal-woonbuurt in Okahandja met ‘n verbypad deur die nywerheidsgebied met die dorp verbind word.
Die reëlings geld vanaf gister en padgebruikers sal ongeveer vir drie maande van die alternatiewe roetes gebruik moet maak tot konstruksiewerk aan die gedeelte van die pad voltooi is. Alle alternatiewe roetes sal duidelik met wegwysers aangedui word en daar word ‘n beroep op motoriste gedoen om te hou by die voorgeskrewe spoedbeperkings en padtekens wat aangebring is om hul veiligheid te verseker.