2.02.2010 Padsterftes was byna 80
BYKANS tagtig mense het die 2009/2010 vakansieseisoen op die land se paaie gesterf teenoor die 69 padsterftes van die vorige jaar.
Oshikoto, Erongo en Oshana is die streke waar die meeste padsterftes voorgekom het met al drie wat tydens die feestyd meer as tien sterftes aangeteken het. Nampol se verkeersafdeling het die finale statistiek bekend gemaak wat aandui dat 79 mense in 70 noodlottige ongelukke gesterf het.
Die statistiek is vanaf 28 November tot 15 Januarie deur Nampol se verkeersafdeling in samewerking met die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) saamgestel. Die tydperk het afgesluit twee dae nadat die skole heropen het.
Uit die dodetal het 77 mense gesterf voordat die skole vanjaar heropen het. Tydens die feesseisoen het ’n totaal van 283 ongelukke plaasgevind waarmee 790 beserings gepaard gegaan het.
Volgens die verkeersafdeling kan die seisoen egter as suksesvol beskryf word vanweë die eenvormige aksieplan, wetstoepassing, steun van borge, samewerking van padgebruikers en die gebruik van die inbelsentrum om relevante inligting deur te gee.
Intussen is by permanente padblokkades 13 520 voertuie tydens die vakansieseisoen afgetrek en deursoek, terwyl ’n verdere 1 010 voertuie by mobiele padblokkades deursoek is. Voorts is patrollies op semistedelike paaie en ook in stedelike gebiede gehou terwyl spesiale projekte ook plaasgevind het.
In stedelike gebiede is 5 990 voertuie deursoek en in semi-stedelike gebiede 650 voertuie. Tydens die feestyd is spesiale aandag gevestig op onder meer bestuurders wat sonder bestuurslisensies ry.
Hiervoor is 698 dagvaardings uitgereik. ’n Totaal van 5 560 dagvaardings is vir spoedoortredings uitgereik. Die hoogste spoed wat die seisoen gemeet is, was 216 km in ’n 120 km/h sone.
Die oortreder het borgtog gekry en die saak is steeds hangende. Verder is ook gekyk na bestuurders wat nie sitplekgordels dra nie en 341 dagvaardings is vir dié oortreding uitgereik.
’n Totaal van 170 dagvaardings is aan bestuurders uitgereik wat voertuie oorlaai en 67 bestuurders is gedagvaar vir onpadwaardige voertuie, terwyl ’n verdere 354 dagvaardings aan bestuurders uitgereik is wie se voertuie nie geregistreer was of wat nie lisensies vir hul voertuie gehad het nie.
Voorts is tydens die feestyd 560 bestuurders vir die gebruik van alkohol getoets en 969 spoedlokvalle is uitgevoer.
|