2.02.2012 Pad sal lewe makliker maak
 Die ooreenkoms om met bouwerk aan die DR 3524-grondpad van Ngoma (Izimwe) na Nakabolelwa in die Caprivistreek te begin, is deur die waarnemende hoof uitvoerende beampte van die Paaieowerheid, mnr. Conrad Lutombi en die hoofkontrakteur, Kubaraf Development Enterprizes se bestuurder, mnr. Robert Coetzee, onderteken.
BOUWERK aan ’n pad wat N$46 miljoen sal kos, gaan vanaf middel Februarie begin word wat vir inwoners van die Caprivistreek toegang van Katima Mulilo na die Ngoma-grenspos sal gee. Dit sal nie van ’n teeroppervlak voorsien word nie.
Konstruksie aan die DR 3524-grondpad van Ngoma (Izimwe) na Nakabolelwa in die Caprivistreek strek oor 22 km, het die waarnemende hoof uitvoerende beampte van die Paaieowerheid, mnr. Conrad Lutombi, die week op ’n mediakonferensie gesê. “Die bou van die pad sal tot die infrastruktuur vir die mense van Caprivi bydra,” het Lutombi gesê.
Volgens beplanning sal die projek 15 maande duur en ’n geskatte 380 werkgeleenthede sal geskep word wat veral tot voordeel van inwoners van Caprivi strek, meen Lutombi.
Die kontrak om die pad te bou, is tussen die Paaieowerheid en Kubaraf Development Enterprizes onderteken en vyf klein en medium sake-ondernemings (SME’s) sal saam met Kubaraf aan die pad werk. Personeel van Omkumo Construction cc, Diversity Trading, Danneva Construction, Sera’s Constriction en Ubuntu Civil Construction sal opleiding en ondersteuning van ’n gevestigde siviele ingenieurskontrakteur ontvang.
“Die hoofdoel van die Paaieowerheid is om ’n veilige en onderhoubare padnetwerk te beplan, te ontwerp en te bou. Dit sluit verwante toegewese funksies in om ekonomiese groei te steun,” sê Lutombi. Kubaraf was ook ’n SME wat tot ’n volwaardige kontrakteur gevorder het.
|